Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Vreugde

Wat ’n wonderlike gedagte vir Koninkrykstyd: Die ko­ninkryk van God is ’n saak van vreugde.

Dit is ’n vreugde wat saamhang met ander aspekte wat ’n mens assosieer met die koninkryk van God, die be­deling waar God heers, waar God se wil geskied.

Dink maar aan die vreugde wat voortspruit uit redding, vrede, genesing, versoening, gereg­tigheid – vreug­de wat voortspruit uit gehoorsaam­heid aan God se wil.

Dat hierdie vreugde voortspruit uit gehoorsaamheid, kan aan die hand van ’n konkrete voorbeeld geïllustreer word. Watter vreugde sou dit byvoorbeeld nie wees om te lewe in ’n gemeenskap waar almal gehoorsaam is aan die gebod dat jy nie mag steel nie.

Aan die ander kant, wat doen dit aan mense as hulle wel besteel word? Die dief steel nie net iemand anders se besittings nie, daarmee saam steel hy ook iemand se vreugde en vrede. Want die dief gee nie om nie. As hy omgegee het, as hy iets verstaan het van die liefde, sou hy nie gesteel het nie.

Op dieselfde manier, skryf Paulus aan die Romeine, word al die gebooie saamgevat in hierdie een: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

“Die liefde,” staan daar in Romeine 13:10, “doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”

Waar ons nie omgee nie, waar ons ons naaste pyn of leed aandoen, daar voer ons nie die wil van God uit nie. Daar help ons nie dat die koninkryk van God kom nie. Dit is ’n duidelike maatstaf om ons gehoorsaamheid of ongehoorsaamheid aan God se wil te meet.

Aan die ander kant: Waar ons omgee, waar ons so teenoor ons naaste lewe dat ons hulle help om vrede en heelheid en geregtigheid te beleef, waar ons vir hulle op hierdie maniere vreugde bring – daar help ons om God se koninkryk te laat kom. Daar is ons gehoorsaam.

Laat ons vreugde bring.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top