Kerkbode se Kersfonds skop vanjaar vroeg af sodat elke gemeente genoeg tyd sal hê om te besluit hoe hulle ’n bydrae wil lewer.
Dié fonds is in 1940, net meer as ’n driekwarteeu gelede, in die lewe geroep om die werk wat die NG Kerk in sy kinderhuise doen, te ondersteun. Die afgelope paar jaar is daar 42 kinderhuise wat baat vind by die bydraes wat gemeentes en individue tot die Kersfonds lewer.
In ’n tyd dat staatsubsidies drasties verminder (lees ook Nelis Janse van Rensburg se rubriek), het instansies soos kinderhuise elke bietjie ondersteuning nodig om te help dat van ons mees weerlose kinders goeie versorging kry.
Kerkbode se Kersfonds het in 2014 ’n bedrag van R246 066 tussen die verskillende kinderhuise verdeel. In 2015 kon dit danksy die ondersteuning uit die kerk opgestoot word tot R264 600.
Teenoor al hierdie geld wat uitgedeel is, staan die fonds nou op ’n boomskraap R1 636. Mag die bydraes instroom.
