Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Dis tyd vir ernstige protes

Op baie plekke was die stempersentasie in die munisipale verkiesing laag. Is dit ’n aandui­ding dat mense begin glo dat die demokrasie nie vir hulle die verwagte uitkoms gaan bring uit hulle nood en ellende nie?

Eersdaags verskyn daar ’n nuwe witskrif wat die regerende party se beleid en rigting sal aandui ten aansien van die versorging van arm en sukkelende mense. Maar die hoop dat daar daaruit grondliggende verbete­ring in dienste sal voortspruit, is nie groot nie.

Die kerk word op baie maniere geraak deur hierdie beleid van die staat. Tot baie onlangs het die onderskeie sinodale welsynsdienste van die NG Kerkfamilie, asook die ACVV, SA Vrouefederasie en enkele ander nie-regeringsorganisasies omvangryke dienste aan die mense van Suid-Afrika gelewer. Dit het natuurlik altyd gebeur met finansiële ondersteuning van die staat.

Sedert die Carnegieverslag van 1932 en daaropvolgende Volkskongres in Kimberley in 1934 het hierdie verstandhouding tussen kerk en staat bestaan en kon die nie-regeringsorganisasies onmisbare dienste lewer. In die eerste jare is dié dienste gelewer aan die blan­kes van Suid-Afrika. Maar gedurende die laaste dekades is hierdie dienste uitgebrei na Suid-Afrika­ners van oor die breë spektrum van die land se bevol­king.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Nelis-Janse-van-Rensburg-2015-Profiel-1.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg is die voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Die maatskaplike werk-professie maak ’n buitengewone bydrae om mense te versorg en te begelei. Net die NG Kerk en die VGK se welsynsdienste alleen het in die vorige boekjaar professionele dienste gelewer aan meer as ’n miljoen kliënte.

Vermenigvuldig jy dit argumentsonthalwe met vyf, die persone in die gesin van die kliënt wat direk geraak word deur die versorging en diens wat gelewer is, raak die omvang van die impak van hierdie dienste enorm. Ons sou gemaklik kon sê dat ongeveer 10% van die land se bevolking geaffekteer is deur die professionele maatskaplike dienste van die NG Kerkfamilie.

Kinder- en gesinsorg is altyd die eerste verantwoordelikheid van maatskaplike werk. Talle kerklike poste is met die ondersteuning van die staat geskep om dienste aan broos mense en veral kinders te lewer.

Die staat kon op baie plekke nie alleen die nodige dienste lewer nie, maar die kerke ook nie. Die NG Kerk het oor die jare die taak van maatskaplike wer­kers so belangrik geag dat ’n kollege vir die opleiding van meer werkers as ’n prioriteit gesien is.

Die Hugenote Kollege en universiteite het só, oor die jare, duisende uitstekend opgeleide professionele mense aan die land se welsynsdienste gelewer. Hulle moes onder meer massas statutêre werk doen. Hierdie werk word ingevolge die streng voorskrifte van wetgewing gereguleer.

Dit het hoë eise aan die werkers gestel, maar verse­ker dat die bevolking van ons land wetlike beskerming geniet teen misbruik en uitbuiting. Wette sonder toe­pas­sers daarvan het immers geen waarde nie.

Die Kinderwet is geskryf om beslag te gee aan Artikel 28 van die Grondwet. Die bepalings in hoofstuk 2, die Handves van Regte, verklaar onder meer: “(1) Elke kind het die reg (a) op ’n naam en nasionaliteit vanaf geboorte; (b) op gesinsorg of ouerlike sorg, of op gepaste alternatiewe sorg wanneer die kind uit die ge­sins­omgewing weggeneem word; (c) op basiese voe­ding, skuiling, basiese gesondheidsorgdienste en maat­skaplike dienste; (d) om teen mishandeling, verwaar­losing, misbruik of vernedering beskerm te word; (e) om teen uitbuitende arbeidspraktyke be­skerm te word …”

Daar is op die oomblik diepe kommer in die welsynsgemeenskap oor die jongste beleidsrigting van die regering oor maatskaplike werk. Meer en meer poste van maatskaplike werkers word gesluit.

Op 26 Augustus 2013 is berig dat die minister van wel­syn, Bathabile Dlamini, in die parlement geantwoord het op ’n vraag en gesê het 66 329 maatskaplike wer­kers word benodig om die Kinderwet te implementeer. In Junie 2013 was daar egter slegs 16 164 geregi­streer­de maatskaplike werkers. Dit verteenwoordig ’n 77% tekort en kan die implementering van kritieke welsyn- en maatskaplike wetgewing baie nadelig beïnvloed.

Die fokus van die regering op vroeë kinderontwikkeling is lofwaardig. Die ongelukkige werklikheid is egter dat ons moontlik op die vooraand staan van die inploffing van ons professionele maatskaplike dienste.

Die probleem is beslis nie dat die kerk gaan skade lei nie, maar dat die mense van ons land, en veral die kinders wat die uiters noodsaaklike dienste wat deur die grondwet gewaarborg word, die dienste ontbeer.

Terwyl die regering behep is met die gee van sosiale toelae, word die fokus al meer weggeskuif van die diens­te wat eintlik die Grondwet en die Nasionale Ont­­wik­kelingsplan se uitkomste moet verseker.

Die implikasies van hierdie benadering vir die maat­skaplike werk-professie is amper te erg om aan te dink, om nie eens te praat van die gevolge vir honder­de maat­skaplike werkers wie se werk in gedrang kom nie.

Die kerk kan nie oor hierdie toedrag van sake swyg nie. Die Seisoen van Menswaardigheid bring die ver­sor­ging en beskerming van kinders, armes, bejaardes en gestremdes skerp in die fokus van die kerk. Geregtigheid is hier op die spel. Dit het tyd geword vir ernstige nasionale protes teen ’n beleid en personeel wat God se mense in die steek laat.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top