In Bloemfontein word drama jaarliks ingespan in ’n bediening vir en deur jongmense. NEELS JACKSON vertel.
Dit is ’n wintersaand in Bloemfontein. By die NG Kerk Pellissier is daar honderde tieners wat buite saamdrom en kuier. Skielik hardloop ’n vrou tussen hulle deur met twee mans in Nazi-uniforms wat haar jaag.
Iemand wil tot haar redding kom, maar word reggehelp. Dit is eintlik ’n bietjie toneelspel, die begin van DRAMAties, Pellissier se jaarlikse jeugweek.
’n Rukkie later pak hulle die kerk vol. Ds Francois Lamprecht skat daar is so 800 tieners van reg oor die stad en so 200 volwassenes. Hulle sit in doodse stilte as die donker openingstonele voor hulle afspeel: die Nazi-soldaat wat ’n Jood koelbloedig doodskiet en sy vrou dan dwing om die graf toe te gooi – net om haar ook te skiet terwyl sy besig is daarmee.
DRAMAties 2016 het begin.
Nee, eintlik het dit al die vorige September begin, ’n maand of wat ná DRAMAties 2015 klaargemaak het.
Lamprecht sê dat hy nie “met kinders werk” nie. Hy bedien saam met jongmense. Daar is verskillende sulke diensgroepe in die gemeente, en een daarvan is die DRAMAties-groep.

Luister
Hulle het in September begin om saam te kom, te bid en te luister wat die Here vir hulle sê oor die volgende jaar se DRAMAties. Eers skryf almal net woorde, frases of tekste neer. Later kom hulle bymekaar om te onderskei wat die temas is wat daaruit na vore kom.
Vir vanjaar was dit donker, fake, tyd en ligdraers.
Hierdie temas en die tekste wat daarmee saamhang, stuur hy dan vir ’n vriend, Barend Venter, wat daaruit ’n toneelstuk van vier episodes skep. Dis ’n storie vol intriges waar daar nie duidelike onderskeide is tussen “goeie” en “slegte” ouens nie. Dit moet getrou wees aan die lewe.
In gesprekke tussen Lamprecht en Venter word die teks geslyp totdat almal tevrede is daarmee.
Dan word daar ’n rolverdeling gedoen. Lamprecht sê hulle kies tieners wat andersins onbetrokke is. Dis nie kinders wat drama op skool doen en vir wie dit net maar nog ’n toneelstuk gaan wees nie.
Dit is ’n groepie mense wat drie maande lank nou met mekaar saamleef, wat bid vir mekaar en omgee vir mekaar. Deur die inoefening van die stuk leer hulle in die praktyk wat dit beteken om as Christene te leef.
Ook betrokke is die musiekgroep. Dit is so 30 mense, nie noodwendig tieners nie, wat mekaar afwissel. En dan is daar die erediensgroep wat onder meer vir die gasvryheid verantwoordelik is.
Dit alles beteken dat wanneer DRAMAties as jeugweek begin en die kerk sit volgepak om te sien wat op die stel gebeur, dan is ’n groot deel van die projek en van die groei wat ’n klomp tieners daaruit kry, reeds agter die rug.

In die jeugweek self word die vier episodes van die toneelstuk op opeenvolgende aande opgevoer. Dit vorm een verhaal. Maar die episodes is ook so gestruktureer dat as iemand die een aand misloop, hy steeds die volgende aand kan volg.
Telkens word die toneel van so twintig minute opgevolg met ’n boodskap van so vyf minute. Dis nie ’n toneelstuk wat bloot ’n aanknopingspunt is vir ’n preek nie. Dis eintlik die toneel wat praat. Die dominee se woorde vul maar net aan.
Donker
So praat die openingsaand, aan die hand van die geskiedenis uit die Tweede Wêreldoorlog van hoe donker die lewe soms is. En dit bied nie kitsoplossings nie. Niks van “Glo net in Jesus en alles sal okay wees” nie.
Eerder: Die lewe het sy kwota pyn. Wees realisties. Die wêreld is stukkend. Maar God is nog daar.
Die tweede aand gaan oor die skep van vals wêrelde waarheen mense ontvlug, vals wêrelde waar nie plek is vir God nie, terwyl God mense in die regte wêreld kan help.
Vir tieners wat soms in ’n facebookwêreld in ontvlug, is dit nogal ’n belangrike kwessie, sê Lamprecht.
Die derde aand gaan oor tyd, en oor God se deadline vir die stukkendheid van die wêreld.
En die laaste aand se tema is ligdraers, want mense kan wegkruip in die donker van die wêreld, of hulle kan ligdraers word – al beteken dit soms dat hulle daarvoor houe moet vat.
Min kinders kom op die aande van DRAMAties vir diep geestelike gesprekke, sê Lamprecht. Meer tipies hoor hy ses maande ná so ’n week by ’n onderwyser dat daar in hierdie of daardie kind se lewe ’n verandering gekom het.
Hulle hoor deur die skole van die impak wat die bediening maak, maar die meeste terugvoer kom na ’n week of ’n maand van ouers af.
En dan word daar weer met ’n klein groepie begin wat luister wat die Here vir hulle sê oor volgende jaar se DRAMAties …
