Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Volgens die toetssteen van die evangelie …’

Op ons historiese reis na die begin van die Re­formasie het ons heelwat tyd saam met Martin Luther deurgebring. Ons reis neem ons nou verder om ander belangrike figure te ontmoet. Phi­lippus Melanchton kom eerste aan die beurt.

Ná Luther se dood in 1546 het Melanchton die leier­skap van die Reformasie in Duitsland oorgeneem. Hoewel minder bekend as Luther, Zwingli en Calvyn het Melanchton ’n onmisbare bydrae tot die voortgang van die Reformasie gemaak. Sy bekende woorde: “Ons sal alles beoordeel volgens die toetssteen van die evangelie en die vuur van Paulus,” toon duidelik aan waar hy homself teologies bevind het.

Melanchton, wat aanvanklik in Tübingen Grieks do­seer het, het Luther in 1518 in Wittenberg ontmoet. Die ontmoeting het van Melanchton die humanis, Me­lanchton die hervormer gemaak.

Tydens Luther se ballingskap in die kasteel in Wartburg, was dit Melanchton wat hom verteenwoordig en verdedig het. Volgens sommige historici het Melanchton se “gawe van logiese denke en wye kennis van die geskiedenis” hom selfs ’n groter rolspeler as Luther in die voortgang van die Reformasie gemaak.

In 1521 het Loci Communes (Common places) uit die pen van Melanchton verskyn. Dit was die eerste boek wat die beginsels van die Reformasie duidelik uit­eengesit het.

Melanchton se belangrikste bydrae was en is egter steeds die Belydenis van Augsburg wat in 1530 gepu­bli­seer is. Te midde van politieke chaos in Duitsland waar hervormingsgesindes en diegene wat pro-Katoliek was teenoor mekaar stelling ingeneem het, het die hervormers hulle geloofsverklaring by die Ryksdag van Augsburg in 1530 ingedien.

Dit was ’n versoenende nie-konfronterende uiteen­set­ting van die leer van die Reformasie sonder dat die hart van die Reformasie prysgegee is.

Die belydenis het dit duidelik gestel dat “die nuwe lewe in Christus goeie werke tot gevolg het maar dat goeie werke van gelowiges geen bydrae tot hulle verlossing maak nie”.

Die bekende woorde van Luther dat “goeie dade nie van jou ’n goeie mens maak nie, maar dat goeie men­se goeie dade doen”, is duidelik hierin terug te vind.

Hoewel die Belydenis van Augsburg die eenheid van Luther se volgelinge met Rome wou beklemtoon, het dit ook die fundamentele teologiese verskille tussen Rome en die Hervormers uitgewys.

Wat in 1517 as ’n protes teen die aflaatstelsel begin het, het die fondament geword vir ’n nuwe Evangeliese kerk in Duitsland. Dit sou egter ook lei tot ’n bloedige oorlog tussen die Hervormers en die Katolieke wat kort na Luther se dood in 1546 uitgebreek het.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit Pretoria.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top