“Ons wil ’n breë gesprek in die NG Kerk begin oor die ekonomie, oor armoede en oor die gaping tussen ryk en arm. Ons wil anders werk as om net ’n besluit te neem en dit te drop in die kerk.”
Só het ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen, gesê by die tweedaagse gesprek waarin daar met ekonome, sakeleiers en politieke ontleders gesels is oor die huidige situasie in Suid-Afrika. Dit is ’n uitvloeisel van opdragte van die vorige twee algemene sinodes.
Die insette wat hier gekry is, is verder bespreek deur genooide verteenwoordigers van die meeste streeksinodes.
Janse van Rensburg sê dié hele saak sluit aan by die NG Kerk se besluit om ’n missionale kerk te wees, by die Seisoen van Menswaardigheid en by die kerk se ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se “The South Africa we pray for”-veldtog.
Uit die gesprek met kundiges het onderwys, ekonomiese groei en werkskepping na vore gekom as van die belangrikste faktore in die stryd teen armoede en ongelykheid.

Deelnemers aan die gesprek was dr Johan van Zyl (gewese grootbaas van Sanlam), prof Stan du Plessis (dekaan van ekonomiese en bestuurwetenskappe op Stellenbosch), die politieke ontleder mnr Moeletsi Mbeki, die ekonoom mnr Dawie Klopper, prof Francis Wilson van die Universiteit van Kaapstad, dr Renier Koegelenberg van die Ecumenical Foundation of South Africa, eerw Moss Ntlha van die Evangelical Alliance of South Africa en ds Nelis Janse van Rensburg. Prof Piet Naudé van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool was die gespreksleier.
Ds Danie Mouton van Oos-Kaapland het gesê een van die belangrikste insigte uit dié gesprek was Wilson se opmerking dat die kloof tussen ryk en arm gemeenskap (“community”) onmoontlik maak. “Daar kan nie gemeenskap wees tussen Sandton en Alexandra nie,” het hy gesê.
Hy het ook daarop gewys dat ongelykheid nie net gaan oor verskil in inkomste nie. Dit het ook ander gesigte, soos dat hy 20 krane in sy huis kan hê en ander mense geen krane het nie, dat hy ’n knoppie kan druk om iets te kook, terwyl iemand anders hout in die veld moet gaan bymekaar maak om dit te doen.
Werkloosheid
Werkloosheid is ’n groot gesig van ongelykheid, omdat dit ’n mens nutteloos laat voel. Nog ’n gesig van ongelykheid is onsekerheid, byvoorbeeld oor waar jou volgende maaltyd vandaan kom.
Hy het gesê kerke is goed geplaas om “van onder af” teen armoede te stry. Van hierdie gesigte van armoede kan deur die kerk getakel word sonder dat mense se inkomste hoef te verhoog.
In die kerklui se besinning oor die kenners se insette het onderwys, en veral vroeë kinderontwikkeling telkens na vore gekom as ’n terrein waarop veral gemeentes ’n konkrete bydrae kan lewer in die stryd teen armoede.
Daar is ook beklemtoon dat die kerk netwerke moet bou en verhoudings moet smee om die stryd saam met ander groepe te voer. Dit is veral belangrik om met arm mense en arm gemeenskappe saam te werk en nie bloot iets vir hulle te probeer doen nie.
Die kerk moenie dink in terme van “ons” en “hulle” nie. Daar is ’n groot “ons” wat almal moet insluit, wat moet saamwerk.
Terugvoer oor die gesprek sal by die vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen gegee word waarna die sinodes gevra sal word om die gesprek deur te voer na gemeentes toe.
