Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die vreugde straal uit ’n dogtertjie se gesig nadat sy in ’n spieël gesien het hoe haar gesig met ’n vlinderpatroon geverf is. Dit was ’n voorbeeld van hoe die Fees van die Narre onlangs vreugde gebring het na die midde­stad van Pretoria. Foto: Neels Jackson

Die narre help om te ontmasker

“Ek hou van dié tradisie waarin mense mas­kers opsit om te ontmasker.”

Terwyl Jim Perkinson so gesels, is daar ’n bonte mengelmoes van mense rondom hom besig om ge­reed te maak vir die jaarlikse Optog van die Narre deur die strate van Pretoria se middestad. Rooi neuse, bont hare en kleurvol geverfde gesigte is oral te sien.

Die optog is deel van die Fees van die Narre wat die Tshwane Leadership Foundation (TLF) jaarliks in Pretoria hou. Hulle neem die Burgerspark oor met spring­kas­tele en verhoë waar kunstenaars optree, terwyl veral kinders blinkoog toustaan dat hulle gesigte geverf word.

Perkinson is professor in Etiek en Sistematiese Teo­lo­gie in Detroit, in die Verenigde State van Amerika, maar hy is ook ’n woordkunstenaar en aktivis, iemand wat die uitdagings van middestede en die heersende kultuur verstaan.

Hy meen so ’n fees en optog van narre is ’n belangri­ke tradisie, meer nog, dis ’n belangrike geestelike praktyk wat uit die Middeleeue dateer en wat help om on­reg­verdighede te ondermyn. Kerke moet meer daarvan maak.

Dr Stephan de Beer van die Instituut vir Konteks­tuele Teologie by Tukkies noem drie oogmerke van die Fees van die Narre: Dit bring vreugde na die midde­stad, dit bou gemeenskap en dit maak mense bewus van die omgewing se maatskaplike probleme.

’n Mens sien al drie dié aspekte om jou afspeel. Daar is die vrolikheid van die spelende kinders; die saamwees en saamdoen van jonk en oud, wit en swart, ryk en arm; en die ernstiger boodskappe op baniere en in die woorde van mense soos Perkinson.

Hy voer die wortels van die Optog van die Narre terug na Jesus se intog in Jerusalem, toe Hy ’n ander soort koningskap gedemonsteer het. Hy lê ook ’n verband met Jesus se optrede in die tempel (Perkinson gebruik die woord “occupy”) waardeur Jesus die uitbuiting van die armes deur die godsdienstige elite aan die kaak gestel het.

Perkinson was een van die sprekers wat in die drie dae voor die Fees van die Narre deelgeneem het aan die Institute for Urban Ministry (IUM) se tweejaarlikse konsultasie in Pretoria. Daar hoor ’n mens dikwels vreemdklinkende stemme wat lank-gekoesterde aannames onder kruisverhoor geneem.

Plaaslike en internasionale besoekers het vanjaar weer ’n kleurvolle tafereel van aangrypende bedie­nings verteenwoordig.

Vader Beningno Beltran uit die Fillipyne het be­kend geword vir sy werk onder die ashoop-bewoners van Manilla. Joel van Dyke dien sy aan sy met die armes van Guatemalastad. Gideon Odyanga doen leiersop­leiding vir stedelike transformasie in Nairobi, Kenia. Aseel Sawalha ondersoek die wyse waarop Sirie­se en Irakese vlugtelinge die kulturele landskap in Jor­danië hervorm. Paul Verryn het omstrede geraak vir sy praktiese ondersteuning aan vlugtelinge in Johannesburg se middestad. En die bejaarde dr Jember Teferra uit Etiopië word nie sonder rede die “Moeder Teresa” van die plakkerskampe rondom Addis-Abeba genoem nie.

Perkinson het deelnemers op ’n duiselingwekkende reis geneem met sy soms humoristiese, dikwels diep­sny­dende straat-poëtiese blik op die lewe van die be­wo­ners van die gebroke industriële stad, die diep-on­d­er­­liggende probleme wat rasse- en klassespanning voed, en die hoop wat telkens onkeerbaar onder bur­gers van stedelike kantlyne ontspring.

In ’n paneelbespreking het heilige koeie soos paternalisme en lobola, diskriminasie, xenofobie en rasse­vooroordele, die oordonderende impak van die ver­brui­kerskultuur, weerstand teen ekonomiese restitusie, en grondgeskille in die spervuur beland.

Bedieninge soos PEN, Echo-Jeugontwikkeling en TLF was weer vanjaar vennote in hierdie saamtrek, wat ook ondersteun word deur Unisa, hulle Chance2­Advance­-program, en Universiteit Pretoria se Sentrum vir Kontekstuele Bediening.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top