Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘LGBTI-teoloë vier kerklike bevryding’

Sewe LGBTI-teoloë* van die NG Kerk het die herroeping van die opskorting van die Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge verwelkom. Terselfdertyd meen hulle die Algemene Sinodale Moderamen en die Algemene Taakspan Regte is ‘n openbare verskoning verskuldig.

Die verklaring onder die opskrif “LGBTI-teoloë vier kerklike bevryding” is uitgereik deur Laurie Gaum, Judith Kotzé, Schalk Naudé, Pieter Oberholzer, Hennie Pienaar, Charlene van der Walt, Lulani Vermeulen. Dit lui soos volg:

  1. Ons is dankbaar dat die NG Kerk gelei is om die menswaardigheid van alle mense, gemaak na die beeld van God, volledig te erken en sodoende ’n leier vir geregtigheid wat dit betref in Suid-Afrika en Afrika te word. Ons vertrou dat die kerk ’n profetiese getuienis in dié verband in ons samelewing en kontinent, wat onder geweldige homo- en transfobie deurloop, sal uitoefen.
  2. Die 2015-besluit is in die eerste plek verkeerdelik opgeskort. Dit word betreur dat ‘n regsbrief van elf lidmate nodig was om die moderamen tot aksie te beweeg sodat uitvoering aan ‘n sinodebesluit gegee kan word.
  3. Die 2015-besluit beteken die einde van alle kerklike vorme van diskriminasie in die NG Kerk teen LGBTI-mense, hul ouers, familie, vriende en alle medegelowiges wat geraak is. Ons is bewus van die seer wat LGBTI-persone reeds eeue lank ervaar, veral ook in godsdiens-omgewings. Dit sal LGBTI-persone dus lank neem om veilig naby die kerk te voel. Veral die komende spesiale algemene sinode sal met omsigtigheid dopgehou word.
  4. Ons sien met verwagting daarna uit dat LGBTI-lidmate deel sal vorm van die afgevaardigdes na die sinode sodat hulle vir hulself kan praat.
  5. Ons moedig gemeentes aan om LGBTI-predikante te beroep en te bevestig.
  6. Die nodige formaliteite moet so gou moontlik met die Departement van Binnelandse Sake afgehandel word om predikante wat daartoe bereid is, in staat te stel om gay paartjies kerklik te trou. Verder mag die selibaatheidsvereiste nie langer geld as ’n voorwaarde om teologiese studente te legitimeer nie.
  7. Ons is verbind daartoe om by te dra tot die implementering van die Oktober 2015-besluit op ‘n menswaardige en inklusiewe manier. Daarin sal alle medegelowiges in ‘n proses van dialoog, as deel van die liggaam van Christus, met die bestaande diversiteit en uiteenlopende oortuigings,  verder voor die aangesig van God en in afhanklikheid van die Heilige Gees kan reis.
  8. Ons glo dat die moderamen en die Algemene Taakspan Regte ‘n openbare verskoning  verskuldig is aan LGBTI-lidmate, hul ouers, familie en vriende en alle medegelowiges omdat daar met die uitvoering van ‘n sinodebesluit wat hulle diepste menswees raak, as gevolg van gebrekkige en foutiewe regsadvies maande lank gesloer is.
  9. Ons vra van die kerk om gepaste pastorale strukture en strategieë in samewerking met LGBTI-persone in plek te stel om ondersteuning te bied sodat LGBTI-lidmate hulle volwaardige plek in die kerk kan inneem. Ons sien ook uit daarna om saam te werk aan ’n kerklike program om aktief die bestaande homo- en transfobie in die kerk te beveg.
  10. Ons sien daarna uit om ons kerklike vryheid te vier by ‘n geleentheid begin-Oktober (datum sal nog aangekondig word) waarna álmal genooi sal word.

 – *LGBTI staan vir Lesbies, Gay, Biseksueel, Transgender en Interseks.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top