Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ons moet droom

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek beleef God se teenwoordigheid, on­der andere, in gesprekke met mense. Ek word verryk deur net te luister hoe mense oor God praat.

Dit gebeur soms dat ek in ’n gesprek beland waar ek en my gespreksgenoot nie dieselfde beeld, belewenisse of verstaan van God deel nie. Dit verryk my steeds, want om te kan luister hoe iemand getuig van ’n liefde vir die drie-enige God kan nie anders as om ’n mens aan die hart te gryp nie!

Dit is in dié gesprekke wat ek geïnspireer word om te droom. Ek droom drome oor die koninkryk van God. En ek is nie die enigste een nie.

Ek was onlangs bevoorreg genoeg om in gesprekke saam met predikante te wonder oor hoe die toekoms van die NG Kerk sal lyk. Ons het onder andere ge­droom oor ’n inklusiewe kerk waar taalgrense nie skeiding bring nie.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/09/Anandie-Vosloo-foto1.jpg” caption=”Anandie Vosloo is ’n teologiestudent in haar finale jaar. Sy doen haar gemeentejaar by die NG gemeente Lyttelton-Oos in Centurion.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

“Hoe gaan ons dit doen?” het ons ons­self afgevra. Sonder om twee keer te dink, het ek geantwoord: “Die klem is nie veronderstel om te wees hoe ons dit gaan doen nie, maar dat ons nie anders kan as om dit te moet doen nie.”

Ek weet dat dit nie noodwendig ’n antwoord is wat dadelik help nie, maar dit is ’n antwoord wat iets weerspieël van my droom: ’n droom oor hoe die koninkryk van God lyk.

Hierdie droom gryp my hart en verbeelding op so ’n wyse aan dat ek daarvan oortuig is dat ek daaraan kan deelneem (soos James Smith in Desiring the Kingdom verduidelik). As gelowiges vorm ons saam aan mekaar se beeld van die koninkryk van God. Ons droom saam en inspireer mekaar om te droom.

Hierdie drome van die koninkryk van God trek ons op so ’n wyse in dat ons wil deel neem aan die missio Dei – want dit is dié droom!

As ons meer missionaal wil wees, moet ons ons lidmate help om te droom! En ons moet dié wat reeds droom, nie verhinder nie. Ons moet die drome oor ’n reënboognasie, ’n toekoms in ons land, inklusiwiteit en hoe die kerk werklik ’n verskil kan maak, koester en verwelkom.

Ons moet droom oor hoe die koninkryk van God lyk. Dit inspireer ons. Dit beweeg ons.

Ek sing die volgende lirieke van John Lennon heelhartig saam: “You may say I’m a dreamer, but I’m not the only one. I hope someday you will join us and the world will live as one.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top