Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Laat u koninkryk kom

Ons bid dit graag. Dit is immers hoe Jesus sy dissipels leer bid het: “Laat u koninkryk kom.”

Die wet van hierdie koninkryk, lees ons in die brief van Jakobus, is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Deur hierdie gebod te gehoorsaam, help ons met ons lewe om die koninkryk van God te laat kom.

Dit geld ook in die debat oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag wat nou in die NG Kerk gevoer word en wat by die buitengewone Algemene Sino­de in November op die agenda is.

Wat behels hierdie liefde wat ons ook teenoor ons gay broers en susters moet uitleef? Dit gaan oor ’n manier van leef wat ander mense help om ’n gesonde, gelukkige en vervulde lewe te lei. Dit is ’n benadering wat help om die lewe in oorvloed, waarvan Jesus in Johannes 10:10 praat, te laat realiseer.

Dit doen die standpunt dat gay verhoudings sonde is, nie. Inteendeel. Daardie oordeel beroof gay mense van ’n gelukkige en vervulde lewe. Dit ontsê hulle die vervulling van ’n verhouding met ’n lewensmaat (terwyl God sê dis nie goed dat die mens alleen is nie).

Die sondigverklaring van gay verhoudings laat gelo­wige gay mense leeg en eensaam, dit laat hulle voel selfs God verstoot hulle. Daarvan is die getuienis oorweldi­gend. ’n Mens hoef maar net na die verhale van gay men­se te gaan luister om dit te hoor.

Oor jare het die NG Kerk hierdie stemme al duideliker gehoor en besef dat so ’n verbod op gay verhou­dings nie die toets van die liefdesgebod deurstaan nie. Daarom dat die Algemene Sinode verlede jaar ’n nuwe standpunt ingeneem het.

Dit was nie ’n besluit wat geneem is deur ’n sinode wat geswig het voor die tydsgees nie. Dit was ’n besluit van ’n sinode wat die pleidooie van hulle gay broers en susters gehoor het en toe geluister het na die Woord van God.

Mag die buitengewone Algemene Sinode dit weer doen.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top