Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Die Bybel ís problematies’

“Ons problematiseer nie die Bybel nie. Die Bybel ís op ʼn sekere vlak problematies.”

So het dr Fanie Cronjé van die gemeente Riviera-Jakaranda by die NG Kerk se Noordelike Sinode gesê tydens ʼn gesprek oor Skrifgesag en Skrifgebruik.

Die gesprek het plaasgevind teen die agtergrond van die kerk se goedkeuring van verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag wat ʼn hernude gesprek in die kerk ontlok het oor hoe die Bybel gelees en verstaan behoort te word.

Dr Chris Harris van Hulp en Hoop Gemeenskapskerk op Mokopane (vroeër Potgietersrus) het gesê leraars het ʼn verantwoordelikheid. Baie lidmate het nooit geleer om die teks anders as letterlik te lees nie. Hy het gepleit vir sensitiwiteit vir lidmate en gesê die kerk het nog ʼn lang pad om te loop. “Kom ons wees geduldig met mekaar, het hy gevra.

Dr André van Niekerk van die gemeente Waterkloof in Pretoria het gesê daar is ‘n neiging om te oorvereenvoudig omdat mense so graag met sekerheid wil leef. Dan verskraal mense byvoorbeeld die waarheid tot historiese feite. Hy het gevra dat daar sterker beklemtoon moet word dat Christus eintlik die Woord van God is.

Dr Sias Meyer, Ou Testamentikus van Tukkies, het gevra dat daar meer erkenning gegee word daaraan dat die Bybel nie eenstemmig is nie. Daar is byvoorbeeld nie konsensus in die eerste vyf boeke van die Bybel nie. Hy het gesê daar moet dalk liewers gepraat word van ʼn diskoers van stemme.

Ds Koos Nel van die gemeente Haakdoorn het gesê ʼn mens hoef maar net die Afrikaanse vertaling van die Bybel te lees om te sien die Bybel is kompleks. In Genesis 1 en Genesis 2 is daar byvoorbeeld twee skeppingsverhale wat teenstrydig is met mekaar. Sy pleidooi was dat die Bybel nie verskraal moet word tot ʼn wetboek nie.

Nie almal het egter sulke sienings gedeel nie.

Ouderling Carel Olivier van Thabazimbi het gesê vir hom is die Bybel eenvoudig. Sy beskouings “is nie besoedel met teologiese kennis nie”. Die manier waarop die Bybel egter soms in die kerk gelees word, is vir hom ʼn probleem. Hy het beswaar gemaak teen wat hy sien as ’n eensydige klem op die liefdesgebod. As daar net die liefde is, is daar geen standaarde meer nie, het hy gesê.

Ds Petrus Kriel van Levubu het beswaar gehad teen wat hy sien as die eensydigheid van ʼn verslag oor geloof en wetenskap. Hy het gemeen as die benadering daarin konsekwent toegepas word, bly daar niks van Jesus oor nie.

Nog ʼn ouderling het gesê hy is so verward soos ʼn verkleurmannetjie in ʼn smartieboks. Hy lees die Bybel kinderlik afhanklik, maar in die sinode se gesprek oor die Bybel het hy woorde gehoor soos “hermeneutiek” wat vir hom nuut was en waarvan sy gemeente nie ʼn snars sal verstaan nie.

Cronjé het beklemtoon dat dit die Bybel self is wat op ʼn sekere vlak problematies is. “Die Bybel is eenvoudig en gelyk ingewikkeld,” het hy gesê.

“Moenie my kwalik neem oor my teologiese opleiding nie,” het hy bygevoeg.

Hy het ook gesê mense moet onthou dat God groter is as die Bybel. Aan dominees het hy gesê hulle is die mense wat dié gesprek in hulle gemeentes moet vertaal.

Die sinode het nie besluite geneem nie, maar gevra dat daar verder in ringe en gemeentes en aan die hand van die studiestukke oor Skrifgesag in die sinode se agenda, oor die saak gepraat moet word.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top