Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Marietjie May en haar familie woon deesdae in Stellenbosch. Ná twintig baie swaar siek-wees-jare, leef dié vrolike, energieke vrou nou met groot oorgawe en dankbaarheid. Foto: Annalise Wiid

Daar was ’n groter wonder

Marietjie May (56) dink terug, skud haar kop verwonderd: Sy het daardeur gekom, maar, sjoe, dit was báie moeilik! Sy was 20 jaar lank siek. Vyftien daarvan bed-gebonde en rolstoel-afhanklik. Nou leef sy sonder brieke.

Sy was destyds maar 25, het pas tuisgekom met haar eersteling (Charl), toe hierdie vreeslike moeg haar oorrompel. “Nie moeg soos in gras-sny- of draf-moeg nie. Só moeg soos lê op die badmatjie en word self droog.” Te moeg, byna, om te lewe. Onbeskryflik!

Ná die geringste takie, soos wasgoed ophang, moes sy lank rus voor sy kon verder. By tye was haar arms onverklaarbaar lam. En soms, as sy net ’n broodjie staan en smeer het, het haar bene sommer net onder haar pad gegee. Of haar een been het botweg vasge­steek. Geweier om na haar kop te luister. Later net so begin sleep. Sleep, sleep …

Dokters het kopgekrap, van mekaar verskil. Aanvanklik depressie en ’n woelige kleuter blameer. Ses jaar later was sy egter sodanig verswak, dat ’n rolstoel haar enigste uitweg was om mobiel te wees en steeds lekker goed saam met haar gesin te doen. ’n Neuroloog het veelvuldige sklerose gediagnoseer. Al die simptome was daar. Skanderings kon dit egter nie bevestig nie. Sommige dokters het gepor: “Dis in jou kop. Staan op uit jou rolstoel, loop speel tennis.” Sy kon nie. Al wou sy.

Sy is vol pille gestop, het weekliks binneaarse medi­syne gekry, is inge­spuit met steroïede. Soge­naam­de be­vryder-bidders wou haar van demone verlos. Moede­loos en verward, het sy soms ge­voel sy raak gek. “Maar kon, ten spy­te daar­van, aanhou hoop en glo,” vertel sy dankbaar.

Daar was tye van remissie ook. Dan het Marietjie met oorgawe ge­leef. Sélf be­stuur, sélf gebad, naald­werk gedoen, aflos-onder­wys gegee. Haar tweede seun, Hein­rich, is gebore. Later, in die swakker, sieker tye, het sy haar ­seuns maar so by haar op die bed grootgemaak. “Ons het met sak­ke vol humor, met God se krag en met oneindige ge­na­de oor­leef.”

Natuurlik het sy soms ge­huil ook. Engel-vriendin­ne was haar vler­ke. Hulle dominee, Jan Bester van die NG gemeente Wierdapark, het dikwels sommer in die rolstoel langs haar bed ge­sit, haar bemoedig. Ontsaglike waarde tot haar le­we toe­gevoeg.

Toe sy op haar siekste was, moes Heinrich sy in­ge­nieurseind­eksamen skryf. Haar man, Martin, se be­roep was uit­da­gend, stresvol. En hulle twee moes háár feitlik voltyds versorg. Sy het hulle só jammer gekry! Hul­le moes boonop nog die huishouding ook behartig. “Here,” het sy eendag gesmeek, “help my asseblief om hulle te help. As ek net één ding kan doen. As ek net solank die vleis aan die gang kan sit, kan Heinrich later die kos kom klaarmaak.”

Toe kook sy, verbasend, sélf die hele maaltyd. Op haar twee voete. En voel, wonderbaarlik, soos ’n gewone mens! ’n Paar dae later probeer sy net een hemp stryk. En kry die hele bondel wasgoed gestryk. Sonder flou-val. Dít was die laaste dag wat sy die rolstoel of haar krukke gebruik het. Binne ses maande het haar liggaam sterker, gesond, geword. Het sy weer leer lééf …

En nou, as mense hulle hande saamslaan oor dié wonder-genesing, sê sy: “Nee, die wonder was baie groter, meer deurlopend: Die Here het ons herhaaldelik opgehelp, staande gehou, sagkens asemskep-tyd gegee tydens remissies. Martin het vir my lief gebly. My seuns het goed daardeur gekom.”

En die wonder duur voort: “Ek leef ná vyf jaar steeds voluit. Normaal. Ek prys God vir lewe en genade! En parkeer so ver moontlik van die winkels af, omdat ek kan loop!”

– Lesers is welkom om Marietjie by marietjie.may@gmail.com te kontak.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top