Marietjie May (56) dink terug, skud haar kop verwonderd: Sy het daardeur gekom, maar, sjoe, dit was báie moeilik! Sy was 20 jaar lank siek. Vyftien daarvan bed-gebonde en rolstoel-afhanklik. Nou leef sy sonder brieke.
Sy was destyds maar 25, het pas tuisgekom met haar eersteling (Charl), toe hierdie vreeslike moeg haar oorrompel. “Nie moeg soos in gras-sny- of draf-moeg nie. Só moeg soos lê op die badmatjie en word self droog.” Te moeg, byna, om te lewe. Onbeskryflik!
Ná die geringste takie, soos wasgoed ophang, moes sy lank rus voor sy kon verder. By tye was haar arms onverklaarbaar lam. En soms, as sy net ’n broodjie staan en smeer het, het haar bene sommer net onder haar pad gegee. Of haar een been het botweg vasgesteek. Geweier om na haar kop te luister. Later net so begin sleep. Sleep, sleep …
Dokters het kopgekrap, van mekaar verskil. Aanvanklik depressie en ’n woelige kleuter blameer. Ses jaar later was sy egter sodanig verswak, dat ’n rolstoel haar enigste uitweg was om mobiel te wees en steeds lekker goed saam met haar gesin te doen. ’n Neuroloog het veelvuldige sklerose gediagnoseer. Al die simptome was daar. Skanderings kon dit egter nie bevestig nie. Sommige dokters het gepor: “Dis in jou kop. Staan op uit jou rolstoel, loop speel tennis.” Sy kon nie. Al wou sy.
Sy is vol pille gestop, het weekliks binneaarse medisyne gekry, is ingespuit met steroïede. Sogenaamde bevryder-bidders wou haar van demone verlos. Moedeloos en verward, het sy soms gevoel sy raak gek. “Maar kon, ten spyte daarvan, aanhou hoop en glo,” vertel sy dankbaar.
Daar was tye van remissie ook. Dan het Marietjie met oorgawe geleef. Sélf bestuur, sélf gebad, naaldwerk gedoen, aflos-onderwys gegee. Haar tweede seun, Heinrich, is gebore. Later, in die swakker, sieker tye, het sy haar seuns maar so by haar op die bed grootgemaak. “Ons het met sakke vol humor, met God se krag en met oneindige genade oorleef.”
Natuurlik het sy soms gehuil ook. Engel-vriendinne was haar vlerke. Hulle dominee, Jan Bester van die NG gemeente Wierdapark, het dikwels sommer in die rolstoel langs haar bed gesit, haar bemoedig. Ontsaglike waarde tot haar lewe toegevoeg.
Toe sy op haar siekste was, moes Heinrich sy ingenieurseindeksamen skryf. Haar man, Martin, se beroep was uitdagend, stresvol. En hulle twee moes háár feitlik voltyds versorg. Sy het hulle só jammer gekry! Hulle moes boonop nog die huishouding ook behartig. “Here,” het sy eendag gesmeek, “help my asseblief om hulle te help. As ek net één ding kan doen. As ek net solank die vleis aan die gang kan sit, kan Heinrich later die kos kom klaarmaak.”
Toe kook sy, verbasend, sélf die hele maaltyd. Op haar twee voete. En voel, wonderbaarlik, soos ’n gewone mens! ’n Paar dae later probeer sy net een hemp stryk. En kry die hele bondel wasgoed gestryk. Sonder flou-val. Dít was die laaste dag wat sy die rolstoel of haar krukke gebruik het. Binne ses maande het haar liggaam sterker, gesond, geword. Het sy weer leer lééf …
En nou, as mense hulle hande saamslaan oor dié wonder-genesing, sê sy: “Nee, die wonder was baie groter, meer deurlopend: Die Here het ons herhaaldelik opgehelp, staande gehou, sagkens asemskep-tyd gegee tydens remissies. Martin het vir my lief gebly. My seuns het goed daardeur gekom.”
En die wonder duur voort: “Ek leef ná vyf jaar steeds voluit. Normaal. Ek prys God vir lewe en genade! En parkeer so ver moontlik van die winkels af, omdat ek kan loop!”
– Lesers is welkom om Marietjie by marietjie.may@gmail.com te kontak.
