Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Daar is eintlik net een manier om die Bybel as gelowige te hanteer. Dit is om Dawid se leuse te volg: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe” (Ps 40:9).
Dit is ook wat ons bely van die ware kerk. As gemeenskap van gelowiges sien ons toe dat: “almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, en alles wat daarmee in stryd is, verwerp” (Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 29). Die gemeente is immers die draer en beskermer van die geopenbaarde waarheid (1 Tim 3:15). So was dit regdeur die eeue.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/04/van-Wyk-Chris-Oos-Kaap.jpg” caption=”Dr Chris van Wyk is moderator van die Oos-Kaapse Sinode.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Josua trek die beloofde land in met die hele wetboek as rigsnoer: “Moet daarvan nie links of regs afwyk nie … Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan” (Jos 1:7-9). Soos die Psalmis sê: “U woord is immers die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Ps 119:105).
Jesus soek sy toevlug in versoeking in die Woord van God: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Matt 4:4, aangehaal uit Deut 8:3). Die evangelie is immers opgesluit in alles wat: “in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is,” dit wil sê die hele Ou Testament (Luk 24:44).
Paulus verkondig in Romeine 15 dat dit juis die hele Ou Testament is wat bemoediging en vastigheid vir ons gee, onderstreep deur vyf aanhalings wat hy sorgvuldig uit al drie dele van die Ou Testament maak: uit die Wet, Deuteronomium 32:43, uit die vroeëre en latere Profete, 2 Samuel 22:50 en Jesaja 11:10, en uit die Geskrifte, Psalm 18:50; 117:1.
Daarom raai Paulus die gelowiges in Rome aan om alles in die stryd te werp om eensgesind onder mekaar te wees. Nie om alle standpunte onder hulle te akkommodeer nie. Verseker nie. Maar deur hulle standvastigheid en hoop in die Skrif te soek. Dit is immers nie net wat Christus Jesus wil hê nie. Dit is van altyd af ook God se bedoeling: “die bron van alle standvastigheid en bemoediging”. Die effek sal wees dat hulle: “almal eensgesind uit een mond lof” sal kan toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus sodat die wêreld kan glo.
Die enigste maatstaf wat ons dus mag aanlê by die komende buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk is die verklaring en verstaan van die geskrewe Woord van God (Nederlandse Geloofsbelydenis, artikels 1-7). Ons diverse ervarings en denkraamwerke moet deur God vernuwe word, sodat dit nie later blyk dat ons in ons besluitneming aan die sondige wêreld gelyk geword het nie (Rom 12:1). Die Skrif is hierin die norma normans non normata – die norm van die norme wat nooit self genormeer kan word nie.
My gebed is dat ons die moed sal kry om die geskrewe Woord bó alles te stel en uit ons verklaring en verstaan daarvan leiding te gee vir ons kerk oor die status van selfdegeslagverhoudings.
