Die NG Kerk se Oostelike Sinode vra die buitengewone Algemene Sinode om 2015 se besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag te herroep.
Die sinode voer aan dat die Algemene Sinode nie getrou was aan ‘n besluit van 2004 om eers met gemeentes in gesprek te gaan voordat sensitiewe besluite geneem word nie.
Dit is een van ‘n reeks besluite wat die sinode oor die saak geneem het. Die grootste deel van die debat is in camera gehou omdat van die afgevaardigdes glo bang was hulle word blootgestel as hulle hulle standpunte in die vergadering stel.
Die sinode het ‘n uitsondering gemaak deur Kerkbode toe te laat mits niemand se name genoem word nie. Kerkbode het nie dié voorwaarde aanvaar nie en nie die debat bygewoon nie.
Die sinode se besluite, wat in ‘n oop sessie geneem is, sê ook:
- Slegs die verbintenis tussen een man en een vrou is ‘n huwelik. Seksuele gemeenskap buite ‘n huwelik voldoen nie aan Christelike riglyne nie.
- As ‘n burgerlike verbintenis nie ‘n huwelik is nie, val seks in so ‘n verhouding buite aanvaarbare grense.
- Leiers moet aan hoër morele eise voldoen. Daarom kan niemand wat in ‘n burgerlike verbintenis staan, ‘n leraar wees nie.
- Die Algemene Sinode moet geen beleidsbesluite oor pastorale kwessies neem sonder konsultasie met gemeentes nie.
- Die Algemene Sinode moet riglyne gee vir die pastorale versorging van gay lidmate, sodat hulle nie marginalisering, verwerping of veroordeling beleef nie.
Die Oostelike sinode stuur dié besluite deur na die Algemene Sinode in die wete dat daar nie eenstemmigheid daaroor is nie.
Oor die Algemene Sinode het Oostelike Sinode gevra dat alternatiewe modelle vir kerkverband ondersoek word wat waarde toevoeg tot gemeentes en waarmee lidmate kan identifiseer. Die samestelling van die Algemene Sinode moet ook dringend hersien word.
Die sinode het ook gesê afgevaardigdes na die Algemene Sinode moet hulle mandaat van die streeksinodes na die Algemene Sinode saamneem en dan besluite onder leiding van die Heilige Gees en in konsensus neem.
Dr Lourens Bosman, uittredende ondervoorsitter van die sinodale diensraad, het gesê dis ‘n volgordebesluit: eers die mandaat, dan die leiding van die Gees en dan konsensus.
