Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
In Oktober 2015 het die sestiende vergadering van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk plaasgevind, en ek het dit bygewoon.
Dit het groot opspraak verwek, omdat selfdegeslagverhoudings tydens hierdie sinodale sitting bespreek is. Ek was terselfdertyd verbaas (omdat ek gedink het ons gaan vir jare nog hieroor debatteer) en verheug oor die uitslag nadat daar gestem is. Nodeloos om te sê is die opwinding kort daarna gestuit omdat die uitvoering van die besluite in November 2015 opgeskort is.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/10/Adelle-van-Rhyn1.jpg” caption=”Adelle van Rhyn is ’n teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Die gesprek oor selfdegeslagverhoudings het ’n sterk teologiese aanslag. My bydrae is egter nie op eksegetiese gebied nie, alhoewel ek op die hoogte bly met die jongste navorsing en voortdurend my eie mening daaroor vorm.
Dit is ook nie op kerkregtelike gebied nie. My persoonlike belangstelling lê eerder daarby oor hoe die kerk mense wat in selfdegeslagverhoudings is en ook hulle families pastoraal kan ondersteun. Ek is veral geïnteresseer in die narratiewe terapie waar mense se verhale ’n sentrale rol speel.
Die rede waarom ek meen dat pastorale ondersteuning aan mense in selfdegeslagverhoudings en hul families nodig is, is omdat gesprekke met mense wat in selfdegeslagverhoudings is, se verhale gaan oor hartseer, pyn en verwerping. Hulle verhale vertel hoe seer hulle gekry het as gevolg van mense – kerkmense! – wat die Bybel as wapen gebruik om hulle te veroordeel.
Daar is baie mense wat in selfdegeslagverhoudings staan wat dit steeds geheim hou om verdere seerkry te vermy.
Dit was nog altyd vir my moeilik om te verstaan wanneer mense aan die een kant sê “God is liefde” en aan die ander kant word mense uitgesluit, veroordeel en seergemaak deur daardie einste mense. Ewe skielik, wanneer iemand nie meer in jou boksie pas nie, word daardie “onvoorwaardelike liefde” met ’n hele aantal voorwaardes belas. Mense word uitgeskuif omdat hulle volgens ander nie in God se narratief pas nie.
Dit het tyd geword vir gelowiges om na mekaar se stories te luister, sonder om te vinnig te oordeel en te vinnig te reageer. Dit is tyd vir omarming en inklusiwiteit, om mekaar se hande te vat en die pad saam te begin stap. Dit is ons plig as gelowiges om met deernis, liefde en gasvryheid op te tree. Wanneer mense na mekaar se stories begin luister, gebeur daar iets. Daar waar die toekomsverhaal eens op ’n tyd verduister was, kan ’n beter toekoms verbeel word – vir individue en ook vir die kerk.
Ek sal aanhou droom van ’n kerk wat inklusief en oop is vir almal totdat die droom realiseer. Ek het en sal altyd hoop hê vir die NG Kerk. Mag ons diep in ons hart weet en besef dat liefde wen!
