Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Liewe Sinode, dit gaan oor mense, regte mense

Die buitengewone Algemene Sinode gaan van 7 tot 10 November veral oor homoseksualiteit en verhoudings tussen mense van dieselfde geslag praat. Maar dit gaan oor meer as ’n saak. Dit gaan oor mense. En dikwels word daar óór hierdie mense gepraat en nie met hulle nie. Daarom het Kerkbode vir proponent Hennie Pienaar, wat self gay is, gevra wat sou hy graag vir die Algemene Sinode wou sê. Hier is sy antwoord.


Liewe Sinode

Besluit asseblief weer dat gay lidmate soos ek, julle gay kinders, die gay kinders van mense wat julle ken en julle gay vriende, as volledige lidmate in ons kerk aanvaar word sonder enige voorwaardes wat nie ook geld vir heteroseksuele lidmate nie.

Moet asseblief nie toelaat dat kognitiewe hartelose vroomheid julle verblind sodat julle nie meer in die oë van julle gay broer en suster wil kyk wanneer julle die besluit neem nie.

Met so ’n besluit behoort ’n mens in die oë van die gay broer en suster te kyk. Jy sal dan ook die refleksie van jouself in hulle oë sien. Jy sal jou eie broosheid en weer­loosheid sien en sal daarom besef dat jy nie anders kan as om te stem vir gelyke en volledige inklusiwiteit nie.

So ’n besluit laat dink ’n mens weer aan ’n mens se eie bekering. Daardie moment toe genade jou soos ’n miswolk oorval het en jy verstom staan met trane in jou oë in die wete dat jy welkom is net soos jy is. Wat het gebeur dat ons dink ons in posisies kan wees waar­in ons ander uitsluit en meer vir ons toe-eien as vir hulle?

Die besluit is ’n mens-besluit, nie ’n interpretasie-be­sluit nie. Dit is ’n hartsbesluit. Dit gaan oor mense. Regte mense. Gewone mense. Jou besluit gaan nie net individue raak nie, maar gesinne, families, vriende, jou buurman, oupas, oumas en jou kerk.

Die kerk wat die verdrukker was, word opgeroep om die kerk te wees vir die weerlose, die weggestote, die vreemde, die ander en dit is nóú die tyd. Met ’n pro-besluit kan ons heldhaftiger die seisoen van mens­waardigheid betree en dit selfs waag om te sê ons is missionaal.

Kom ons word weer die kerk vir die wese en die weduwees en wewenaars en armes en hulle wat onderdruk word. ’n Pro-besluit kan ons weer bekendstel aan wat dit beteken om mekaar se voete te was. Die besluit kan ’n hoorbare evangelieboodskap uitstuur, ’n sagte boodskap wat heel en nader roep. ’n Boodskap van onvoorwaardelike liefde.

Ons kan dien wanneer ons weet ons is genoeg. Van­uit genoegsaamheid wil ons die ander dien sodat óók húlle weet húlle is genoeg net soos hulle is. Hulle word dan ons. Wanneer jy ander uitsluit, sal genoeg nie ’n tuiste in jou kom maak nie. Genoeg het ons verstaan met ons bekering – net soos jy is!

Die bevestiging van die besluit van die Sinode in 2015 is ’n baie belangrike besluit. Dit kan die NG Kerk help om oop te breek in ’n nuwe varsheid waarin sy al haar kinders nooi om saam te loop. Ons wil ’n kerk wees wat vir almal wat wíl, nooi om saam te loop. Dit maak nie saak hoe jy lyk nie. Hoe jy ruik nie. Hoe jy praat nie. Hoe jy aantrek nie. Hoe jy lag nie. Hoe jy huil nie. Hoe jy dans nie. Hoe jy dink nie. Kom loop saam. Die oopbreek kan weer nuwe lig laat inskyn sodat ons weer kan skyn as ’n plek van veiligheid.

Die bevestiging van die besluit en die implemente­ring en leef daarvan kan ons help om van ons maskers ontslae te raak. Ek dink aan die aanhaling uit die boek van Sheldon Kopp: “If we wear our masks for too long, and we try to discard it, we might find that we threw our face away with it.”

Om van die maskers ontslae te raak beteken om van ons bang ontslae te raak. Die bang dat ander dalk sien ek is ook maar net mens. Die bang vir die dood. Die bang vir foute maak. Die bang vir die onvoorspelbaarheid van die lewe en dat daar nie waarborge is nie. Môre, oormôre is dit jy wat die weerlose is, gaan die kerk daar vir jou wees? Wel, as sy eerlik is, mens is, sal sy dalk. My liewe broer en suster, ’n pro-besluit is ’n besluit vir elkeen van ons wat mens is. Kom ons gooi die maskers af!

Ek is Hennie Pienaar. Ek wil nie hê die NG Kerk moet ’n plek wees waarin ons gay seuntjies en dogtertjies bang en onseker voel oor wie hulle is nie. Help my asseblief dat ons ’n kerk kan wees waarin ons ons kinders kan grootmaak sodat hulle kan weet wié hulle is, is genoeg. En dat hulle in hulle genoegsaamheid hulle refleksie in die ander se oog kan sien, voete was en maskers weggooi.

Ek is Hennie Pienaar. Ek is net soos jy weerloos en bang. Ek wil soos jy eerlik wees. Ek wil saam met jou loop. Ek wil saam met jou leef en kerk wees.

Proponent Hennie Pienaar
September 2016

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top