Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Twee kollegas bring hulde

Dr Johan Botha is onlangs skielik oorlede aan ongewone komplikasies weens malaria ná ’n besoek aan die Laeveld. Hy het verlede jaar afgetree as predikant in sinodale diens by die Kommissie vir Getuienisaksie, ’n gesamentlike bediening van die NG Kerk in Wes-Kaapland en die Verenigende Gereformeerde Kerk Kaapland. Die twee moderators van dié sinodes, ds Nelis Janse van Rensburg en ds Pieter Grove, bring hulde aan hom.


Teoloog wat die Belydenis van Belhar wou beliggaam

Dr Johan Botha is een van daardie besondere persone wat Suid-Afrika opgelewer het. Sy wortels gaan ver terug in die gereformeerde tradisie. Sy oupa, George Botha, het pionierswerk in Nigerië aan die begin van die 19de eeu gedoen. Die vrug van sy werk saam met gelowiges daar het uitgegroei tot ’n lewenskragtige susterskerk, die NKST (Nongo uKristu uKen Soedan hen Tiv – die Kerk van Christus in Soedan onder die Tiv).

Johan se pa, oom David Botha, was vir vele jare in die leierskap van die NG Sendingkerk (NGSK), ook as moderator, en was veral een van die sleutelfigure wat die Skiereilandse Raad vir Kerklike Samewerking gevestig het. Hierdie instansie het natuurlik die instroming van bruinmense in die Wes-Kaap aangespreek deur nuwe gemeentes te help vestig en ’n geestelike tuiste vir bruin gelowiges te skep. Binne so ’n dampkring het Johan reeds vroeg bewus geword van die impak van gedwonge verskuiwings onder apartheid.

Johan se hele familie moes onder andere besluit of hulle volledig deel van die bruin NGSK wil wees. Talle NG Kerk-leraars het in die NGSK gedien, maar nooit lidmate geword nie. Oom David en sy vrou Nettie het hul kinders egter in ’n volledige identifisering met die bruin kerk gelei. Johan het daarom sy nagraadse studie aan die Universiteit Wes-Kaapland gedoen en wel oor temas wat beide sy familie-geskiedenis en die apartheidskonteks aangespreek het.

Dr Botha het waarskynlik ’n baie dieper greep gehad op die impak van apartheid op die bruin en swart gemeenskappe as die meeste van ons mede-NGK-familielede. Dit was vir hom natuurlik om die Belydenis van Belhar volledig sy eie erfenis te maak. Hy was per slot van sake heeltemal op hoogte van die teologiese strome, maar meer as baie wit landgenote – hy het die impak van die vernietiging van apartheid en die bitterheid wat dit veroorsaak, bykans daagliks aanskou. Miskien was dit waarom hy verder as die meeste wit gelowiges kon gaan in sy begrip van die kerklike en politieke stryd in ons land.

Johan Botha het egter nooit sy wortels prysgegee nie. Hy het die teenwoordigheid van die ware kerk in beide die NG Sendingkerk-NG Kerk in Afrika en die NG Kerk herken, asook in die breë ekumene. Alhoewel die afwyking van die gereformeerde leer in die NG Kerk verreikend was, en alhoewel dit generasies sou neem voordat die ideologiese klappe van apartheid verwyder sou word, het Johan as deel van die generasie van Belhar, die onwrikbare geloof behou dat gelowiges van die een familie aan mekaar behoort. Johan was daarom een van die argitekte wat kweekhuise vir eenheid en versoening in die kerk en tussen gelowiges probeer vestig het. Die gesamentlike Kommissie vir Getuienisaksie, sy uitreiking na medegelowiges in die res van Afrika, sy leiding in Arbeidsbediening – alles het die stempel gedra van die strewe na hereniging en genesing.

Johan Botha en sy vrou Selma het hul huis oopgestel vir gaste, plaaslik en internasionaal. Sy belydenis van eenheid was nie teoreties nie, maar is gedemonstreer in sy respek en ontvangs van gelowiges in sy huis. Hy kon ook maklik die teologiese insigte van ander waardeer. Ons het die voorreg gehad om saam met hom in Nigerië oor die onderwerp van “versoening” te besin. Daar was by hom nie ’n sweem van arrogansie en rasse-vooroordeel te bespeur nie. Die teendeel was waar – hy het die diversiteit van Christus se kerk geniet en het gedroom van veel groter en inniger eenheid.

Johan Botha se uitgangspunt was altyd dat die kerk reeds deur Christus een gemaak is. Ons kan en moet dit slegs beliggaam. Johan moes egter worstel met die volle gevolge van hierdie eenheid. Apartheid het nie net gelowiges in diepte van mekaar vervreem en daarmee rassedenke vasgelê nie, dit het ook ’n stelsel van bevoorregting geskep wat waarskynlik die teelaarde is van die bitterheid van die jonger generasie. Die Belydenis van Belhar eis dat geregtigheid teenoor die verdrukte sal geskied, maar hoe sal ons die hiërargieë van bevoorregting afbreek en vir almal nuwe lewensmoontlikhede bied? Die beliggaming van geregtigheid is die een taak wat ons nog met ons geliefde broer moes deurworstel. Sy helder standpunte tov die kerk en ons geloof is bakens vir sy kinders en vir sy broers en susters in Christus op die pad vorentoe.

Ds Pieter Grove (Moderator, VGK Kaapland)
Ds Nelis Janse van Rensburg (Voorsitter van die moderamen, NGK Wes-Kaapland)

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top