Die gesprekke in die saamsoek na antwoorde oor selfdegeslagverhoudinge (SGV), is tans in twee groeperinge teenoor mekaar opgestel. Aan die een kant mense wat op grond van Bybeluitleg SGV negatief beoordeel en uitleef afkeur (Posisie 1). Aan die ander kant mense wat SGV as Godgegewe alternatief beskou en volle uitlewing en aanvaarding voorstaan (Posisie 2). Henk Gous stel ’n derde weg voor gegrond op die wetenskaplike metode van die Praktiese Teologie.
Die Praktiese Teologie maak erns met beide die Bybel as Gods Woord én met die realiteit waar God aan die werk is in “lewende menslike dokumente”. Dit hanteer sake in gedurige wisselwerking tussen dié twee fokuspunte met vier bedrieglik eenvoudige vrae (Osmer, 2008). Ek wil die SGV-vraagstuk hanteer saam met drie parallelle realiteite, met die doel om die denke dat gaywees totaal uniek is, in perspektief te probeer stel.
Wat gebeur?
Ons sien vier verskynsels waar mense sukkel om sekere Bybelse opdragte uit te leef:
a. Sekere mense sukkel om hulle te verbly in die Here soos Filippense 4:4 vra.
b. Sekere mense sukkel om uit te reik na ander in naasteliefde soos Johannes 13:34 vra.
c. Sekere mense sukkel met heteroseksuele liefdesverhoudings en vind ’n man-vrou-huwelik soos Matteus 19:5 vra, ondenkbaar.
d. Sekere mense is geskei en vind dit onmoontlik om alleen te leef soos Matteus 19:9 vra.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/11/Gous-Henk-Wes-Tvl-1.jpg” caption=”Dr Henk Gous is ’n emeritusleraar en was vroeër moderator van die NG Kerk in Wes-Transvaal.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Waarom gebeur dit?
Die navorsing uit die menswetenskappe toon dat ’n sekere persentasie van verskynsels a-c, veroorsaak word deur faktore waarin die wil ’n ondergeskikte rol speel. Byvoorbeeld as die diagnoses van die gedrag in a-c onderskeidelik a) depressie, b) outisme en c) gaywees is, dan is die oorsaak nie sondige keuses nie. Dan is die oorsaak konstitusionele, fisiologiese realiteite.
Die oorsake is soms bekend, byvoorbeeld by depressie wanbalanse in neurologiese oordragstowwe. Soms is oorsake onseker, byvoorbeeld by gaywees: genetika, epigenetika, omgewingsinvloede, ens. Die realiteit is egter dat hierdie nie-voldoening aan Bybelse opdragte eerder ’n onvermoë is as ’n ongehoorsaamheid.
Wat behoort aan te gaan?
Profetiese onderskeiding waar die Woord moet spreek.
Jesus help ons liefde uitleef en om die funksionele gebrokenheid te herstel, byvoorbeeld waar mense nie onderskeidelik a) vreugde beleef, b) menskontak uitleef, of c) heteroseksuele verhoudings aangaan nie.
Jesus se veroordeling van bogenoemde drie tipes gedrag is gerig teen ongehoorsaamheid en sondige keuses. Die Bybeltekste hier onderskei nie dat die oorsaak soms onvermoë is nie.
Jesus se veroordeling van byvoorbeeld gebrek aan naasteliefde, is dus, waar outisme die oorsaak daarvan is, nie van toepassing nie. Netso, die duidelike negatiewe beoordeling van selfdegeslagverhoudinge in verskeie Bybeltekse, is, in geval van ’n bewese onvermoë soos by kernhomoseksualiteit, nie van toepassing nie.
Hoe kan ons reageer?
Helpers van alle wetenskappe moet in God se diens werk om die gebrokenheid te herstel. – Hulp begin by die vraag na funksionaliteit. Seksualiteit se ontwerpfunksionaliteit het duidelik ’n heteroseksuele verhouding in die oog. Jesus beskryf al die fasette omvattend as “huwelik”. – Dan diagnose. Met gaywees as voorbeeld:
*Eers moet met alle vaardighede en saam met die betrokke persoon gesoek word na die aard en erns van die onvermoë tot heteroseksuele verhoudings: Hoe vloeibaar of vasgelê is dit?
*As die onvermoë vloeibaar is (soos dikwels in LGBTI), werk dan na herstel.
*As dit vasgelê is, is daar twee opsies. Die eerste is om saam met die beperking te lewe. Dan sou iemand ondersteun word om as enkeling ’n lewe digby volheid uit te leef.
*Die tweede opsie is om ’n realiteitsbeste te soek. As dit sou behels dat ’n gay persoon in ’n selfdegeslagverhouding van liefde en trou leef (’n burgerlike verbintenis), dan moet die kerk en samelewing dit as realiteitsbeste ondersteun.
Hierdie derde opsie sal waarskynlik vanuit die huidige twee posisies gekritiseer word.
Vanuit Posisie 1 is die beswaar waarskynlik dat die Bybel afgewater word.
Maar: om te wys dat hierdie derde opsie die Bybel ernstig opneem, selfs al word daar skynbaar teen die letter van die Bybelse voorskrifte opgetree, noem ek nou voorbeeld-d hierbo, naamlik hertrou na egskeiding. Wanneer Jesus ’n skynbaar omvattende uitspraak maak dat hertrou (met een uitsondering) voortgaande owerspel is, verwys Hy na sondige keuses tot egskeiding.
Die huidige algemene kerkpraktyk is dus (skynbaar teenstrydig met Jesus se letterlike woorde) dat geskeidenes toegelaat word om te hertrou wanneer dit duidelik is dat daar ’n onvermoë tot huweliksherstel was.
Vanuit Posisie 2 sal die beswaar waarskynlik wees dat gay persone se selfbeeld ernstig geskaad word indien daar na gaywees verwys word as onvermoë of gebrokenheid. Posisie 2 sou verkies dat gaywees eerder ’n natuurlike of Godgegewe alternatiewe seksualiteit genoem moet word, volledig gelykstaande, nes blou en bruin oë.
Maar: SGV kan slegs op andersoortige maniere die volle spektrum funksies van “huwelik” vervul. Die Algemene Sinode se standpunte dat slegs man-vrou-verhoudings die stempel van huwelik kan dra, is dus korrek. Maar net soos die mediese wetenskappe funksionele onvermoë probeer herstel (byvoorbeeld kinderloosheid in hetero-huwelike) of alternatiewe soek, net so moet ons as kerk en samelewing saam soek na die realiteitsbeste op die SGV-gebied, dalk burgerlike verbintenis.
Ek bid en soek saam na God se leiding uit hierdie impasse.
