Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Prof Fanie Snyman van Bloemfontein skryf:
In briewekolomme en braaivleis-geselsies word moontlike skeuring in die NG Kerk genoem na aanleiding van verskille oor selfdegeslagverhoudings en die naderende buitengewone Algemene Sinode.
Ek rig pleidooie:
Die eerste is vir gesprek waar enersdenkendes mekaar nie net meer oortuig van bestaande standpunte nie. ’n Gesprek moet plaasvind nie oor mekaar nie, maar met mekaar.
Die idee van gesprek is belangrik; dis nie ’n gesprek as ons mekaar vanaf kateders aanvat en die onhoudbaarheid van ander se standpunte analiseer nie. ’n Gesprek is veel meer persoonlik – dit gebeur in ’n sitkamer of om ’n tafel, liefs in ’n informele atmosfeer. ’n Gesprek vind plaas waar rustig met ’n oop gemoed na standpunte en (wan-)persepsies van mekaar geluister word.
My tweede pleidooi is vir eenheid van en in die NG Kerk.
Die eenheid van die kerk is ’n Bybelse gawe en opdrag. Dit hoef skaars beredeneer te word. I Korintiërs 12, Efesiërs 4, Galasiërs 3, Johannes 10:16, Johannes 17 beklemtoon die eenheid van die kerk.
Die eenheid van die kerk word verwoord in die belydenisskrifte. In die Heidelbergse Kategismus Sondag 21 word bely: “Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ’n gemeente (enkelvoud!) tot die ewige lewe uitverkies het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis praat ook konsekwent van die kerk in die enkelvoud (Artikel 27 – 32).
Wie hoog opgee oor die Bybel en die belydenisskrifte maar tegelykertyd skeurpraatjies maak, handel kontra die Bybel én belydenisskrifte. Wie skeurpraatjies maak, is self skuldig aan ’n onderwaardering van die gesag van Christus en Sy Woord.
Wie die kerk wil skeur met vroom motiewe van ’n beter, meer Skrifgetroue kerk nader aan die belydenis, skiet homself in die voet. Die geskiedenis bewys, jy stig nie ’n beter kerk nie, jy verskeur net die liggaam van Christus verder. Enige afskeiding of skeuring bring eensydigheid tot verlies van die kerk van wie jy afskei en tot nadeel van die “nuwe” kerk.
Die tweede rede vir my pleidooi vir eenheid is dat ons mekaar nodig het. I Korintiërs 12 se liggaamsmetafoor vir die kerk maak duidelik dat lidmate onontbeerlik is vir mekaar. In die Heidelbergse Kategismus (Sondag 21 Vraag en Antwoord 55) word bely dat gelowiges saam “elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend”.
Kom ons sê reguit: die standpunt van die kerk oor selfdegeslagverhoudinge is nie so belangrik dat ’n kerk daaroor skeuring selfs moet oorweeg nie. Oor ’n paar jaar gaan ons ons hande saam slaan in verbasing dat die saak so baie tyd kon opneem.
Die NG Kerk het in sy geskiedenis nog altyd verskillende teologiese aksente gehuisves. Die verskillende aksente het mekaar eintlik in toom gehou. Waarom moet ons nou die eeue-oue tradisie in die NG Kerk laat vaar?
Met sy verskeidenheid van teologiese tradisies en aksente was die NG Kerk vir my nog altyd ’n teken daarvan dat die kerk een kan wees te midde van diversiteit. Kom ons behou die eenheid, kom ons bly praat. Die Bybel en die belydenis vra dit.
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
