Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Dr Chris Saayman van Tafelberg-gemeente skryf:
Ek voel soos iemand wat uit ’n narkoseslaap wakker geword het. 6 Februarie was vir my die dag van waterskeiding tussen ’n periode van geestelike en teologiese verdwaaldheid en persoonlike herlewing. Uit die bloute het die Here my daardie dag kom aanraak. Dit was soos wedergeboorte.
Sedertdien het die skille van my oë afgeval en is ek meer as ooit oortuig van die onfeilbaarheid en gesag van die Skrif.
Vroeër was ek simpatiek teenoor die 2015 Algemene Sinode se besluit oor homoseksualiteit – omdat ek (steeds) groot meegevoel het vir gelowiges wat met ’n homoseksuele oriëntasie te kampe het – maar sedertdien kan ek die besluit op geen manier meer onderskryf nie. Die getuienis van die Skrif is eenvoudig té duidelik en ek kies onomwonde vir die waarheid van die Skrif.
Om eenheid binne ’n kerk te handhaaf wat leuen en waarheid vermeng, is onmoontlik. Wat blyk slegs net verskillende gesigspunte oor sake soos Skrifgesag en homoseksualiteit te wees – en wat binne een kerk geakkommodeer kan word – is in werklikheid ’n keuse tussen leuen en waarheid.
Die Skrif is nie so onduidelik oor hierdie sake soos wat voorgegee word nie. Die Skrif is baie helder. Die vraag is of die kerk bereid is om te buig slégs voor Christus se heerskappy deur sy Woord.
Kerklike eenheid is slegs moontlik in die waarheid, maar dan moet die kerk tot bekering kom en wegdoen met post-modernistiese dubbelsinnigheid en duidelik bely wat die waarheid volgens die Skrif is. Slegs die Waarheid maak vry!
Lesers kan briewe rig aan Die Redakteur, Kerkbode en dit na kerkbode@tydskrifte.co.za stuur. Korter briewe, verkieslik nie langer as 300 woorde nie, geniet voorkeur by plasing. Briewe sal redaksioneel versorg word en kan ook verkort word.
