Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Algemene Sinode mag geen besware aanhoor, sê regslui

Die Algemene Sinode van die NG Kerk het volgens die Kerkorde van die NG Kerk nie die magte om enige beswaar, appèl, revisie of gravamen teen die besluite van die Algemene Sinode van 2015 te hanteer nie.

Dit is die regsadvies van adv Jeremy Gauntlett (SC), adv FB Pelser en adv M Gaum wat Vrydag, 4 November, aan die prokureurs van die Algemene Sinode gestuur is – drie dae voor die begin van die buitengewone Algemene Sinode wat juis byeen geroep is om besware teen die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag aan te hoor.

Die jongste regsadvies is aangevra deur elf lidmate van die NG Kerk wat vroeër ook vir die kerk ’n regsadvies van adv Wim Trengove (SC) aangestuur het waarvolgens die Kerkorde nie appèlle teen besluite van die Algemene Sinode toelaat nie.

Daarna het nog twee regsopinies tot die gevolgtekking gekom dat die appèlproses ongeldig is. Een daarvan is deur drr André Bartlett en Carin van Schalkwyk aan die ASM voorgelê en die ander is deur die Algemene Steunspan Regte self aangevra.

Waar die vorige drie regsmenings spesifiek oor appèlle gegaan het, maak Gauntlett en sy kollegas se advies geen onderskeid tussen appèlle en beswaarskrifte nie, en voer aan dat alle besware teen besluite van die Algemene Sinode ongeldig is.

Hulle sê voorts dat enige optrede van die Algemene Sinode wat nie deur die Kerkorde gemagtig is nie, ongeldig sal wees. As die Algemene Sinode so optree, kan dit verwag word dat daar by die Hooggeregshof aansoeke ingedien sal word om die Algemene Sinode se optrede ter syde te stel – en dit, sê Gauntlett en sy kollegas, behoort te slaag.

Hoe die Algemene Sinode gaan reageer, sal die tyd moet leer.

Aanvanklik is die besluite van 2015 in die lig van die appèlle opgeskort.

Teen die agtergrond van die regsadviese oor die appèlproses, het die Algemene Sinodale Moderamen in September besluit om dié opskorting te herroep, maar ruimte gelaat vir die appèlproses om voort te gaan.

Daar is besluit om ’n buitengewone Algemene Sinode te hou en om almal wat appèl aangeteken het, te vra om dit om te skakel na beswaarskrifte.

Van die appellante het dit gedoen, maar ander het nie. Die Algemene Steunspan Regte het ’n appèlkommissie aangewys om die oorblywende appèlle te hanteer en dié kommissie lewer verslag aan die buitengewone Algemene Sinode.

Omdat die moderatuur ’n embargo op die agenda geplaas het, word die appèlkommissie se bevindinge nie bekend gemaak voordat die sinode begin nie.

Daar is ook talle beswaarskrifte en ander voorleggings oor die saak aan die sinode voorgelê.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top