Vrywillige gemeenskapsdiens is goed vir jou gesondheid. Mense wat gemiddeld twee ure per week hulle tyd en aandag vrywillig aan hulle medemens gee, ontvang die volgende voordele: Hulle behou hulle funksionele vaardighede langer, is oor die algemeen gelukkiger en voel meer vervuld.
En hoe ouer, hoe beter! Navorsing bevind die meeste vrywilligers is ouer as 70. Kort na aftrede rits mense nog baie rond, maar daarna is hulle weer gereed vir gemeenskapsdiens.
Aletta le Roux ervaar dit inderdaad so. Sy bestuur Albertinia Versorgingsdienste, ’n Badisa-dienssentrum en tehuis vir bejaardes. Een van hulle oudste inwoners, tannie Lettie, is 97. Feitlik al die vrywillige helpers is naby 70 en ouer. Sommige van hulle al in die 80, maar steeds flink aan die voorvat. En nog lank nie tehuis-inwoners nie!
Elke eerste Saterdag van die maand verkoop die vrywilligers pannekoek “bo, teen Albertinia se grootpad” – by die Engen-garage waar die “padmense”, die N2-padverbruikers, vir petrol stop. Die twee voorste bakkers, wat dan maklik heeldag op hulle voete staan, is Sheila van Rensburg (80) en Shirley Muller (68). Oor Paasnaweke bak hulle drie dae lank.
Onlangs het ’n ander vrywilliger, tannie Hilda Gous, kom vertel dat sy tydens ’n Namibië-kuier wou pannekoek koop by ’n AGS-funksie. Sy was stomverbaas toe sy hoor die pannekoek is verniet. Dit was vir haar só lekker, die ervaring van vrygewigheid, dat sy daar en dan besluit het sy wil dit op Albertinia ook probeer. Sy bied toe aan om die bestanddele te skenk, om vanjaar se Augustus-verkoping só ’n gratis een te maak.
“Ek wens jy kon daai stadsmense uit die Kaap se gesigte sien as ons sê die pannekoek is verniet,” lag Aletta. “Hulle het onmiddellik gevra: Waar is die kameras? Almal het gedink ons skiet ’n nuwe Schuster-movie – want verniet pannekoek is te goed om waar te wees. Iewers moet daar ’n catch wees. Een seuntjie het met R25 kom koop. Toe hy die geld vir sy ma terugneem en sê die pannekoek is vandag verniet, stuur sy hom terug met ’n donasie van R50. Baie mense het daardie dag spontaan geld gegee – sommer uit pure dankbaarheid vir die verrassing en lekkerte van die gratis pannekoek-genade.”
Op die ou end het hulle bykans 80% ingekry van die wins wat hulle normaalweg met so ’n grootpad-verkoping maak, vertel Aletta. Dit was ’n bonus. Maar die mense se verbaasde gesigte – dit was priceless!
