Die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk het besluit dat hy tydens sy huidige sitting die hele saak van selfdegeslagverhoudings sal bespreek en opnuut daaroor besluite gaan neem.
Dit kom nadat die vorige Algemene Sinode se besluite oor selfdegeslagverhoudinge ter syde gestel is deurdat die Appèlliggaam ’n appèl teen die besluit gehandhaaf het omdat die regte prosedure nie gevolg is nie.
Dit het die vraag gelaat hoe die buitengewone Algemene Sinode die saak vorentoe gaan hanteer.
Die Algemene Taakspan Regte het daarop gewys dat die Appèlliggaam nie net die besluit ter syde gestel het nie, maar die saak ook terugverwys het na die buitengewone Algemene Sinode.
Dìt, het prof Johan van der Merwe, die aktuarius, gesê, kom neer daarop dat daar kennis gegee is van revisie. Dit beteken dat die buitengewone Algemene Sinode die saak kan hanteer en besluite daaroor kan neem.
Daarmee is al die besware en ander voorleggings oor die inhoudelike aspekte van die besluite op die tafel van die sinode. Mense wat sulke voorleggings aan die sinode gedoen het, sal geleentheid kry om die vergadering toe te lig.
Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator, het gesê die sinode kan nou enige besluit neem. Die sinode kan min of meer dieselfde besluit as verlede jaar weer neem, of dit kan die teenoorgestelde besluit neem, of dit kan ’n besluit neem om weer ’n proses te begin.
Op die Algemene Sinode se beplanning is daar tyd tot Woensdagmiddag ingeruim vir die bespreking en besluitneming.
