Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die ‘onheilige’ pad van Jesus

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Tydens die Oostelike Sinode in Oktober breek ons een middag vir tee, na ’n moeilike gesprek oor die Algemene Si­no­de se besluit oor selfdegeslagverbinte­nis­se. Met ’n koppie tee in hand gesels ek en ’n vrien­­din oor ons belewenis en daar herinner sy my aan twee punte wat die historiese Jesus na­vorsing ons oor sy lewe op aarde leer.

Eerstens was Jesus aan die kant van die rand­figure. Hy het vreemde vriende gehad, hulle was oor die algemeen “weirdo’s” en “washouts“. Een van hulle het ’n werk gedoen wat ander ingedoen het, en daarby het Jesus nog hulle dronkpartytjies bygewoon.

Jesus het aan die kant van die mense gestaan wat deur die samelewing en godsdienstiges verstoot en verwerp is. Hy het dit ’n prioriteit gemaak om na hul­le te luister en hulle te verstaan.

Tweedens was Jesus self ’n verstoteling, verworpe deur die godsdienstiges van sy tyd omdat Hy, volgens hulle verstaan nie rein genoeg was nie. Om dit vandag die maklikste te verstaan is om te sê: Jesus was volgens die godsdienstiges nie heilig genoeg nie.

Dis vreemd om aan Jesus te dink as ’n onreine of nie-heilige mens. Maar Jesus het vreemd opgetree vir die gods­diens­tiges. Hy het ’n weg kom wys wat navolging vereis.

Wat die godsdienstiges die meeste omgekrap het was sy radikale anderste beeld van God se liefde vir die mensdom. Liefde wat eeue-oue swaar dogma’s van die tafel afgevee het, liefde wat godsdienstiges kwaad gemaak het, omdat hulle dit nie kon verstaan nie.

Hy het selfs op ’n dag ’n vrou wat op heterdaad in die bed met ’n ander man betrap is, huis toe gestuur om haar lewe in orde te kry in plaas daarvan om haar te stenig.

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/11/Foto-Tielman-Roux-image.jpg” caption=”Ds Tielman Roux is predikant van die NG gemeente Hendrina.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]

Dit het my weer laat besef dat geen mens ’n vaste greep op die omvang van God se liefde kan hê nie, sy liefde sal ons altyd verbaas en selfs anders laat dink.

Dit is vir my wonderlik om te beleef hoe al meer mense begin om deel te word van die beweging waarmee Jesus begin het, om te kies om in sy voorbeeld te volg, dit uit te leef en mense te begin liefhê, met ’n liefde wat uit die Gees alleen gebore kan word.

Tot so ’n mate dat dit godsdienstiges vandag ongemaklik laat word, dat dit hulle kwaad maak omdat hulle nie kan verstaan hoe ander gelowiges die randfigure kan begin insluit, aanvaar en ’n pad met hulle stap nie.

In ’n samelewing en land waar die universiteite brand, die leierskap korrup is en die kerke “struggle” met geslagsgelykheid het ons nodig om weer eens die radikale liefde van God te herontdek en uit te leef. Sy liefde is al wat weer eenheid sal bring.

Jesus het geweet hoe dit voel om ’n verstoteling te wees weens godsdienstiges. Daarom is dit gevaarlik om hierdie “onheilige” weg wat Hy kom wys het te stap, want sy volgelinge mag selfs vandag nog deur ander godsdienstiges verwerp word.

Ds Tielman Roux is predikant van die NG gemeente Hendrina.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top