Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Berta Clase skryf ‘n ope brief aan die Algemene Sinode:
Dit was met groot skok en hartseer dat ek verneem het van die herroeping van u vroeëre besluit aangaande gays.
Beide ek en my man is in die NG Kerk gedoop, gekatkiseer, aangeneem en voorgestel, getroud en het ons kinders laat doop, laat katkiseer en voorgestel. In beide van ons families is ons al geslagte lank deel van die NG familie.
Ons het gesukkel om ‘n baba te hê en het ‘n kindjie van die Here af gesmeek. Hierdie gebed is in 1989 verhoor toe ons uiteindelik die allermooiste babadogtertjie in ons arms kon hou. ‘n Kindjie wat ons met soveel liefde gevul het dat ons harte kon bars daarvan.
Ek vra U nou. Is die kindjie wat ons van die Here afgebid het nou vir die hel beskore? Sy is gay. Ons het haar as Christen grootgemaak. Sy leef nie promisku nie. Sy bly ons kind en bly steeds by ons, alhoewel sy reeds 28 jaar oud is. Sy vervul ons met soveel trots omdat sy soveel vir ander mense beteken en werklik ‘n voorbeeldige lewe lei.
Is sy nou gedoem daartoe om vir ewig alleen te moet lewe? Mag sy geen lewensmaat hê nie? Met wie moet sy die hartseer en die bly van haar dag en lewe deel?
Is die NG Kerk werklik trots op hierdie besluit? Feit is dat ons kind en duisende ander gays nié ‘n keuse uitgeoefen het om gay te wees nie. Dit is hoe God hulle gemaak het. Dis ‘n feit wat ons kind en baie ander soos sy al baie hartseer en verwerping laat beleef het.
Gister is ons laatlam in die NG Kerk voorgestel. Met die bediening van die nagmaal het ons oudste dogter nie nagmaal gebruik nie. Kan ek vir u sê hoe stukkend my hart is? Ons oudste kind is kwaad vir die Here. Sy het die kerk afgeskryf, soos u met u besluite haar afgeskryf het.
Is u tevrede? ‘n Kind wat vir die Here geleef het en spartel om die wreedheid van haar bestaan te verstaan, het Hom en die kerk afgeskryf. Is dit liefde? Is dit wat die Here wil hê? Hy wat beloof het om enigiemand wat na Hom toe kom nóóit uit te werp nie.
Al wat ek wel weet is dat die Here wat ek aanbid en liefhet gesê het slegs God kan oordeel. Ek laat dus maar my oordele aan Hom oor wat alles weet en verstaan. Wat my lieflike kind met liefde in my moederskoot aanmekaar geweef het. Wat haar die kind gemaak het op wie ek trots kan wees.
Ek groet u. Mag u lekker godsdiens-godsdiens speel. Onthou net: u speel dit met ander mense se lewens. U speel dit met mense se siele wat vir ewig hierna óf verdoem óf aanvaar sal word. As u dan weer so hoogheilig met ‘n gebuigde hoof en ‘n ligkrans om die kop die preekstoel bestyg, sê maar ‘n gebed op vir my siel ook, want ek is besig om dit te verloor deur u liefdeloosheid. Vader weet, my kind ook!
