Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Dit gaan oor mag

Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.


Quintus Smit van Pretoria skryf:

Die dinamika in die NG Kerk ten opsigte van reaksie op progressiewe denke moes te wagte gewees het. Dit is waarskynlik die laaste stuiptrekkings van ’n geslag ontmagtigdes.

Die oorheersende temas wat die gemoedere opjaag soos die “gay-kwessie”, eenwording van kerke, belydenisse en selfs nog die vrou in die amp, het nie werklik te doen met teologiese argumente oor fundamentele kerklike leerstellings nie.

Ten basis van hierdie gesprekke lê ’n ander saak naamlik mag of, soos dit nou gebeur, on-mag.

Die oorgeërfde kultuur gebou op ’n paternalisties oordrewe Calvinisme het vir die meeste Afrikaners (veral mans) ’n gemaklike magsbasis gebied. Ná die Anglo-Boereoorlog was die kerk die enigste veilige plek vir die uitlewing van taal, kultuur en geloof. Die opwelling van Afrikaner-Nasionalisme het hierdie leefpatroon versterk. Die mag wat in die polities-kulturele gebied tuis gekom het, het gemaklik oorgespoel na die kerk.

Die geslag wat op die oomblik die hardste veg vir die behoud van mag en die status quo, is meestal middeljarige tot ouer mans. Dis mans wat deur diensplig is en gedril is om bevele te gehoorsaam en nie gesag te bevraagteken nie. Beheer en orde is hulle gemaklike omgewing en die Bybel is die handboek om dit in stand te hou.

Met die verlies van politieke mag het van hierdie manne hul van die politieke speelveld onttrek, maar die magspel voortgesit in die kerk.

Die Koninkryk wat Jesus verkondig het, word verwring tot ’n eie koninkryk wat ons “ons kerk” noem. Lankal nie meer God se Kerk nie. Binne die grense van daardie koninkryk is daar nie plek vir God se inklusiewe, akkommoderende liefde vir “almal wat vermoeid en belas is” nie. In daardie magspel is die kerk eksklusief, veroordelend en voorskriftelik.

Die veilige skild waaragter hierdie beyweraars vir “suiwere Woordverstaan” skuil, is die fundamentalisme wat altyd ’n maklike “vers-ontvlugting” bied. ’n Mens hoor amper die onuitgesproke versugting: “Ons het al so baie prysgegee, ons moet ten minste van iets in beheer bly”, oor iets of iemand kan triomfeer. Mag laat nie ruimte vir liefde nie. Mag veroordeel, skei en maak ontoeganklik.

As eerlike selfondersoek moontlik was en magsprysgawe gedoen kon word, sou die kerk ’n plek word waar almal kan tuis voel. Elkeen wat deur die gebroke wêreld ontmagtig is, sal kan tuiskom in dieselfde ruimte waarin Jesus saam met diesulkes geëet het.

Dan sal die eintlike mag van die kerk, liefde, gesien kan word. Die mag van uitnooi, aanvaar, deel, omarm en ruimte maak. Die mag wat vryheid gee om jouself te wees, die spiritualiteit te leef waarin jy tuis voel. Om onbevange lief te hê dié mens wat jou gees verstaan. 

Hoe anders sou die gesprekke by die kerkvergaderings daar uitsien. Temas soos die armoede-uitdagings, die bekamping van korrupsie en rassisme, die bewaring en bewerking van ons natuurlike omgewing, die vestiging en ontwikkeling van ’n etiese bewussyn in ons gemeenskappe.

Daarin lê die werklike mag van die kerk: om verdraagsame gemeenskappe te skep wat ingestel is daarop om goed te doen en hoop te verkondig.


Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.