Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Anton Doyer (emeritus) skryf:
Wat ‘n “wonderlike” besluit van die Algemene Sinode, dié een wat terug gaan op sy 2015-een waarin gay gelowiges onvoorwaardelik omarm en selfdegeslagsverhoudings aanvaar word! Dit laat my nie met “bewondering” of “verwondering” nie, dit laat my eerder “wonder”:
Die motivering van diegene wat dié besluit gedryf het, is volgens woordvoerders die handhawing van Skrifgesag in ‘n versekulariserende omgewing – sodat Bybelse norme nie deur menslike gebruike verplaas word nie. Nou wonder ek of dié krampagtige poging ironies nie onbedoeld lei tot die teenoorgestelde nie: Die sentrale skrifboodskap van die onvoorwaardelike liefde van God word juis geweld aangedoen deur die klem op enkele periferiese tekste wat buite konteks gebruik word om die vooroordele (homofobie) van ‘n sekere deel van die gemeenskap te regverdig.
Dan wonder ek ook oor die hantering van die Efesiёrs-teks: “… ons sal in liefde by die waarheid bly …” (4:15) wat oënskynlik as grondslag van die besluit dien. Kom dit nie dalk neer op ‘n massiewe denkfout wat “liefde” en “waarheid” as opponerende en wedersyds uitsluitende konsepte hanteer, terwyl die liefde en genade van God juis die hoogste waarheid is nie?
Verder wonder ek in welke mate ons gay broers en susters ruimte gegun is – en inderdaad geraadpleeg is – om deurslaggewende insette te lewer in die formulering van die besluit. Indien nie, dan wonder ek ook:
Maak die besluit nie dan karikature van ons seisoene van “luister” en “menswaardigheid” nie? Meer nog, plaas hierdie verdoemende uitspraak ons geloofwaardigheid as “spieëlbeeld van God” (Piet Naudé) nie in die gedrang nie? Ek wonder of ons in die tyd en wêreld waarin ons ons roeping uitleef die beeld van ‘n veroordelende, beterweterige en selfgeregverdigde gemeenskap nog enigsins kan bekostig.
Laastens: verwysend na prof Andrie du Toit se aanhaling, “we would rather err on the side of helping hurting people than on the side of hurting helpless people”, wonder ek of God oor dié besluit van sy “gesant” in ’n stukkende wêreld frons of glimlag. Kan dit dalk wees dat die euforie daaroor misplaas is en eerder vervang behoort te word met beskeidenheid, wetende dat ons ons teologie eerder met die potlood moet skryf – daar is altyd die moontlikheid dat dit uitgevee kan word …
