Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Pieter Taljaard van Oos-Londen skryf:
Dis met groot spyt, teleurstelling en hartseer dat ek hierdie brief skryf, maar ek voel dat ek geen keuse het nie. Die Algemene Sinode se besluit om weer gay-lidmate uit te sluit van volle deelname in die kerk, was die finale klap in my gesig.
Ek het vir jare die kerk se houding teenoor gays geïgnoreer omdat ek in die Gonubie-gemeente (Oos- Londen) ‘n liefdevolle familie van gelowiges ervaar het. Ek besef egter dat my gemeente nie teen die sinode se beleid kan beweeg nie.
Ek kan nie aan die een kant glo in elke mens se reg tot ‘n eie gender-identiteit en seksuele oriëntasie, en aan die ander kant ‘n kerk ondersteun wat blote gay-wees gelykstel aan iemand wat teen Christus se wense leef nie.
Ek was self ‘n tiener wat selfmoordneigings ontwikkel het juis omdat die kerk my laat glo het ek is verdoem.
Van kleins af het ek God se heerlikheid ervaar deur veral die fantastiese orrelmusiek wat meesters in hul vak Sondae uit die orrel laat verrys het. Skielik wou ek nie meer kerk toe nie.
Toe ek uiteindelik oor my depressie kom, was ek vir jare kwaad vir God. Hoe kon hy my so gemaak het? Dit het meer as ‘n dekade gevat om myself te aanvaar en weer ‘n pad met die Here te begin stap, weer my liefde vir Hom te begin uitleef in die kerk as deel van die lofspan. Die musiek is die stem van God wat my van kleins af na hom toe lei.
Hy het uiteindelik my lewe gered sonder om my van my gay-wees te “genees”. Hy het my gevorm soos ek is. ‘n Gewone mens wat na God se wil en plan vir my lewe soek, wat probeer om soos Jesus te leef. Ek weet ek kry dit nie reg nie. Maar ek probeer.
My homoseksualiteit is egter nie ‘n keuse wat ek my hele lewe lank maak om teen God te sondig nie. Dit is deel van wie ek as mens deur God geskape is.
Ek verstaan dat mense veiliger voel met hul eie interpretasies van die Skrifgedeeltes wat homoseksualiteit verbied. My eie studie (en vele teoloë wêreldwyd) van die betrokke teksverse het my laat besef dat nie een daarvan oor homoseksualiteit as sulks handel nie.
Ek kan nie my eie ervaring van hoe die Woord met my in my eie lewe gewerk het meer met die kerk se interpretasie daarvan laat klop nie.
God het my in die onderwys geplaas waar ek al vele verwarde/depressiewe tieners moes help om homofobie as mensgemaak en hul eie unieke self (wat ook al hul gender-identiteit of seksuele oriëntasie) as Godgegewe te sien.
Ek probeer niemand van my siening oortuig nie. Maar ek wil hê julle moet duidelik sien dat ek nie langer met dubbele standaarde tussen my lewe vir God en my lewe in die kerk kan loop nie. My geestelike groei strook nie meer met dié van die kerk nie.
Met diepe hartseer beëindig ek dus my lidmaatskap aan die NG Kerk.
