Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Carel Kuun skryf:
‘n Jaar gelede was ek oortuig dat ek die NG Kerk gaan verlaat oor die 2015-besluit. Nou het ek lank gaan sit en dink oor die 2016-besluit.
Ek vra myself af: “Is jy nou gelukkig? Gaan jy nou in die kerk bly?” Maar hoe meer ek daaroor dink, hoe meer dink ek: “Nee, ek is nie gelukkig nie.” Daar is eenvoudig te veel skade aangerig. “Nou wat wil jy dan hê?” vra ek myself.
Nou die oggend word ek wakker na ‘n droom. Ek droom die gedeelte in Johannes 2:13-16 waar Jesus ‘n sweep vleg en woedend onder die handelaars in die tempel invaar.
Toe ek wakker word, wonder ek, is dit hoe God voel oor die wat homoseksueel is? Onmiddellik kom die gedeelte in Johannes 4 by my op waar Jesus met die prostituut gesels by die put. En ek sien in my gedagtes hoe Jesus se liefde vir haar straal en ek besef dit kan tog nie die rede vir die droom wees nie, want kyk hier hoe lief het Jesus die sondaar.
Toe kom die onthulling: God het die sondaar (elke sondaar – ook vir my) lief. Of ek nou ‘n prostituut is of ‘n dronkaard, of ‘n gierigaard of homoseksueel is. God het my lief.
Maar toe God se tempel ontheilig is deur die handelaars, het dit Hom siedend gemaak. So woedend dat Hy gewelddadig geraak het. Die einde van daardie gedeelte sê: “Die liefde vir u huis verteer my.”
Hierdie aanval op die heiligheid van God se Woord, maak Hom net so woedend. Nié die sondaar nie, nié die persoon wat homoseksueel is nie, maar die feit dat ‘n klein groepie die Woord (soos die tempel) probeer ontheilig deur te sê dat dit nie waar is nie. En ek dink: “Die liefde vir u Woord verteer my.”
Ek glo daar is ‘n klein groepie mense wat hierdie saak gedryf het, en hulle het ‘n groot klomp homoseksuele mense saamgesleep. Mense wat al die jare eintlik gelukkig was in die Kerk. Mense wat verstaan dat hulle kruis swaarder is as baie ander mense s’n (dat hulle kruis dalk behels dat hulle selibaat moet bly – ‘n swaar kruis wat min mense kan dra – of selfs verstaan).
Mense wat in ‘n mindere of meerdere mate daarin geslaag het om met hierdie kruis saam te leef en te probeer om ten spyte daarvan, aan God en die Woord gehoorsaam te bly. Al faal hulle ook, maar om elke keer weer op te staan en te sê:: “Ek gaan aanhou probeer om reg te lewe voor God.”
Wie kan jou kwalik neem dat jy gegryp het na hierdie “oplossing” wat deur die klein groepie aan jou voorgehou is? ’n Antwoord wat sê dat jy toe al die jare net die Woord verkeerd verstaan het en nie meer verder jou kruis hoef te dra nie. Wie van ons sal nie graag wil hoor dat my diepste, seerste en privaatste sonde toe al die tyd nie sonde is nie? Nee, niemand neem jou kwalik daarvoor dat jy meegesleur is deur hierdie golf nie. En niemand neem jou kwalik dat jy nou verontreg voel nie.
Maar hier sit ons nou. Eintlik was jy nooit die dryf agter hierdie aksie nie, en eintlik was jy nooit regtig ongelukkig nie, maar nou is jy.
Kan ons nie weer as God se kinders saamkom en hierdie ding agter ons sit nie. Dit is nie vir jou wat Jesus die sweep vleg nie, Hy sit saam met jou by die put en sy liefde straal oor jou.
My liefde ook – al het ek dit nie die laaste jaar juis gewys nie.
