Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lede van die Braambos-lugmagbasis saam met van Tshitandani se seuns tydens die oorhandiging van werksbanke en gereedskap. Foto’s verskaf

God word nêrens genoem

“Die storie waarin God se naam nie genoem word nie.”

Só noem ouderling Andries Smal van die NG gemeente Louis Trichardt die verhaal wat die afgelope jaar by hulle afgespeel het.

Die agtergrond is dat hulle ’n paar jaar gelede opgemerk het dat daar ’n klomp Zimbabwiese kinders in hul­le dorp se strate ronddrentel. Hulle het die Tshitan­da­ni-kinderhuis gevestig en kort voor lank was daar geen straatkinders in Louis Trichardt oor nie. Tshitan­da­ni huisves nou sowat 35 kinders van tussen 12 en 20, byna almal Zimbabwiërs.

Om hierdie seuns konstruktief besig te hou, het hulle begin met ’n projek om mandjies te vleg. Dit het goed gegaan, maar die seuns het gevoel dis eintlik vroue­werk.

Dis toe dat Andries begin droom oor ’n houtwerkprojek vir die seuns. Dié droom het hy met ’n paar men­se gedeel.

Die organisasie Save The Children International het daarvan gehoor, maar hulle het nie geld begroot om daarmee te help nie. Toe pres Jacob Zuma egter sy mi­nister van finansies in die pad steek en die markte reageer, val die wisselkoers so dat Save the Children skielik meer Rande tot hulle beskikking het. In Maart 2016 lewer hulle toe R34 000 se houtwerktoerusting by Tshitandani af.

Maar waar sou hulle die houtwerk doen? Daar was nie plek nie, toe begin hulle dink aan ’n skeepsvraghouer. Andries het die gedagte genoem aan iemand van die vroulike Rotariërs op die dorp. Dié wou weet wat kos so iets, en Andries sê drie jaar tevore was dit so R14 000. Toe skenk die vroue dié bedrag.

Maar toe hy begin navraag doen, kos ’n houer R34 000.

Die manlike Rotariërs hoor toe daarvan en kontak ’n humanitêre sentrum in Bedfordview wat ’n houer skenk. Al wat die kerk moes doen, was om die vervoer daarvoor Louis Trichardt toe te betaal.

container
Die vraghouer waarin Tshitandani se houtwerksentrum ingerig is.

’n Kontrakteur sê toe dit sal R18 000 kos, maar as hy ’n vol vrag in die ander rigting het, sal hy dit vir R10 000 doen. Toe bring iemand hulle in kontak met ’n ander kontrakteur wat ook ’n Rotariër is, wat dit vir R4 500 sal doen.

Op ’n Vrydagmiddag kry Andries ’n oproep. Die houer is in Louis Trichardt. Hulle moet dit net aflaai. Inderhaas soek hy ’n hyskraanoperateur en die tweede een wat hy kontak, sê hy sal dit vir R2 500 doen.

Met toegewings van die munisipaliteit kon hulle vir R3 800 krag aanlê daarheen. Boonop stuur die vervoerkontrakteur uit Johannesburg vir hulle ’n faktuur vir R0,00.

Intussen het ’n vrou om heel ander redes by die gemeente om hulp gaan aanklop. Hulle kom toe agter sy is ’n opgeleide houtwerkinstrukteur. En ja, sy sal die seuns oplei – waarop Lawyers for Human Rights R20 000 gee om haar mee te betaal.

Daarby het die plaaslike lugmagbasis in die loop van die jaar gevra wat hulle vir Tshitandani kan doen. Toe werksbanke genoem word, maak die basis vir hulle vier met bankskroewe daarop.

So, sonder dat die verskillende mense in die verhaal van mekaar geweet het, het hulle saamgewerk om dit moontlik te maak dat die volledig toegeruste hout­werk­­sentrum begin 2017 met opleiding kan begin.

Boonop is daar van die oorspronklike skenking van R14 000 geld oor om hout te koop.

In die hele verhaal, sê Andries, word die Here se naam nêrens genoem nie. Hulle het Hom nie gevra hier­­voor nie. En tog het hulle beleef hoe God die deure een na die ander vir hulle oopmaak. Hulle het ervaar hoe God alles voorsien.

En as hy terugdink oor al dié genade, voeg hy by: “Jy moet aan die Here behoort om dit te kan verstaan.”

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top