Hierdie is 'n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Elize van Elarduspark skryf:
Die laaste woord is nog lank nie geskryf oor die onnodige kontroversie oor nie-heteroseksuele verhoudinge in die kerklike konteks nie!
Ná die afgelope weke se gekibbel, debatte, argumente en teenargumente bly een emosie my by: intense hartseer. Nie soseer oor die kerk nie, want ek is deel van hierdie onvolmaakte kerk (NG Kerk) en die gemeente, waar ek lidmaat is, doen soveel wonderlike werk waarmee ek kan assosieer.
Nee, my hartseer is oor die ongemak en onbegrip (onbekend is onbemind) van sekere van die sinodesitters met andersheid.
Jare terug was die genetiese andersheid van swartmense nie aanvaarbaar nie; ook was dit die andersheid van vroue (ook geneties anders as die manlike besluitnemers van destyds!) wat lank ᾽n struikelblok vir die sitters was. Die laaste tyd is die genetiese andersheid van homoseksuele mense op die voorgrond.
Wat maak ons so bang, so onbeholpe, so nydig teenoor dié wat anders lyk, anders dink en anders leef? Is dit nie dalk tyd dat die sinodesitters vir ᾽n slag ópstaan uit hul stoele en uitbeweeg na die verskeidenheid mense buite die sinodesale nie? Só kan die vreemdheid van die “ander” oorbrug word deur hul unieke menswees te leer ken.
