TKR sê ‘Nee’ vir wetsontwerp oor haatspraak en haatmisdaad

Die Tussenkerklike Raad (TKR) van die drie Afrikaanse susterkerke het kapsie gemaak teen die wetsontwerp oor haatspraak en haatmisdaad. Hulle het die volgende persverklaring uitgereik:

Die Tussenkerklike Raad is sterk gekant teen die Wetsontwerp op Haatmisdade en Haatspraak en het ’n voorlegging in dié verband by die Departement Justisie ingedien. Die TKR is ’n tussenkerklike liggaam waarop die NG Kerk, Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika verteenwoordig word.

Die TKR streef na daadwerklike versoening tussen mense in Suid-Afrika en verwerp ondubbelsinnig alle vorme van haatspraak en haatmisdaad. Dit is egter ons oortuiging dat die beoogde wetgewing onnodig is, ondeurdag is, in die toepassing daarvan juridiese komplikasies gaan meebring, terwyl dit landsburgers se grondwetlike reg op vryheid van spraak en godsdiensbeoefening bedreig. Daarby wil ons benadruk dat die hart en gesindheid van mense nie deur wetgewing gereguleer kan word nie, maar slegs deur die skep van ’n kultuur en lewenstyl gebaseer op die Bybelse ingesteldheid van liefde en respek.

Die Wetsontwerp verklaar die motief van vooroordeel of onverdraagsaamheid teenoor ’n slagoffer tot misdaad, hetsy die vooroordeel gegrond is op ras, geslag, seksuele oriëntasie of enige ander gronde. Die motief alleen stel dan ’n afsonderlike misdaad daar. Dit is egter ons oortuiging dat die vasstelling van motiewe uiters subjektief is, nie meetbaar is nie, en tot willekeur gaan lei. Ons beskou dit ook as ongeldig om die motief van een misdaad bo dié van ’n ander te verhef.

Die TKR spreek ook sy besorgdheid daaroor uit dat die beoogde bepalings oor haatspraak daartoe kan lei dat vryheid van spraak en selfs van godsdiens in gedrang gebring kan word. Die terme “beledigend” (insulting), “minag, in oneer bring” (bring into contempt), en “bespot” (ridicule) is so wyd dat selfs die verkondiging van enige geloofsoortuiging daardeur gekriminaliseer kan word.

Dit is ons vaste oortuiging dat ons in die Grondwet, die Gelykheidswet, ander bestaande wetgewing en die gemenereg oorgenoeg middele (remedies) het om dié sake aan te spreek wat nou deur die beoogde wetgewing in die oog gestel en aan willekeurige beoordeling oorgelaat gaan word.

Die TKR versoek dat dié wetsontwerp geskrap word of ten minste deeglik hersien moet word. Terselfdertyd doen die TKR ’n beroep op alle gelowiges in Suid-Afrika om volgens die eise van Gods Woord met eerbied en respek teenoor alle mense om te gaan.

Dr Wouter van Wyk (NHK)
Ds Cassie Aucamp (GKSA)
Dr Gustav Claassen (NGK)

Word 'n vriend van Kerkbode