“Dit is ’n geleentheid om te groei.” So sien ds Nobuntu Penxa-Matholeni haar aanstelling as junior lektor in Pastorale Sorg aan die Universiteit Stellenbosch se departement Praktiese Teologie. Groei-kans, lewensveranderend – vir haar studente én vir haarself.
Sy gee jeugwerk vir die tweedejaarstudente. En pastorale sorg en berading vir die derdejaars. “You need to be who you really are,” is haar uitgangspunt. Student en lektor. Berader en kliënt. “Then you shape lives, not just minds.”
Nobuntu is ’n brug-mens. Kerkbode het in 2014 oor haar berig. Destyds was sy deel van NG gemeente Helderberg in Somerset-Wes se uitreikspan. Nobuntu (met ’n meestersgraad in Kliniese Pastoraat aan die US) het toe as berader in Chris Nissenpark gewerk: ’n Swart vrou tussen brandarm bruin mense namens ’n oorwegend wit gemeente. Brug-wese inderdaad. Met baie lewenswysheid. Sensitief vir kultuurverskille en seermaakkwessies. Sy luister en kyk fyn. “One should always try to see and see beyond.”
Ná Helderberg het sy vir ’n jaar die Desmond Tutu-stigting se werk in gemeenskappe op die Kaapse Vlakte help koördineer. Nobuntu begin ook vanjaar met haar doktorale studie.
Sy bring ’n rykdom van ervaring na die akademie. Nie net haar vorige werksondervinding nie. Ook haar grootword-ervaring in die Oos-Kaap, as die sewende van agt kinders met ’n enkelma. Haar pa is oorlede toe sy maar twee jaar oud was. Sy verstaan die behoefte aan pastorale sorg op voetsoolvlak.
“Dit bring ek as lektor vir die studente,” sê sy. “Kennis wat jy in geen akademiese handboek gaan kry nie.” Haar eie ervaring van armoede, verontmensliking.
“Die lewe is oral morsig. In agtergeblewe gemeenskappe nog meer so. Krisisse kom onaangekondig. En goeie beraders is dáár – midde-in die gemors. Bewus.”
“Ons Suid-Afrikaanse geskiedenis vra van ons ’n nuwe soort pastoraat. Nie bloot geestelik nie. Ook praktiese sorg, toenemend, liggaam én siel. Oor grense. Sonder skedules. Menslik. Morsig. Real.” Nobuntu wil haar studente relevant blootstel aan mense se nood. En ’n akademiese rekord saamstel van ons unieke Suid-Afrikaanse manier van sorg vir mekaar en die samelewing.
Sy sien veral uit na die kere wat ’n student haar ná klas na haar kantoor toe volg. Om te vra: “Verduidelik weer, ek verstaan nie?” Of om uit te daag: “Hoekom so en nie sus nie?” Sulke een-tot-een-gesprekke is spesiaal, sê ds Matholeni, “because those are the moments when you see a person, not merely a student”.
