Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Lizette Kloppers in een van haar groentetonnels. Haar boerdery maak ’n verskil in baie mense se lewe. Foto verskaf

Van boer na sentrum na kok na kind

In die Worcester-omgewing het daar ’n netwerk tot stand gekom waardeur duisende kinders se lewe verander word omdat hulle groente en vrugte kry om te eet. JACOBIE M HELENA vertel.


Sowat ’n derde van alle groente en vrugte wat op plase in Suid-Afrika geproduseer word, kom nie by mense uit nie. Hulle wil vir boere die geleent­heid gee om iets sinvol en lewensveranderend met hier­die oorskot groente en vrugte te maak.

Só vertel Rudolph Röscher, voorsitter van die NG gemeente Worcester-Vallei se Diaconia-bediening en volhoubare hulpbronbestuurder by die Wes-Kaapse Landboudepartement, oor Worcester-Vallei se groentetuin-netwerk.

“Die idee van die netwerk het begin vorm kry toe ’n boer in Vallei-gemeente ’n skenking van kool aanbied wat nie verkoop is nie. Later het dit ’n tweede keer gebeur.

“Ek kom toe agter dat daar baie vrugte en groente in die omgewing beskikbaar is wat niemand gebruik nie. Die boer weet ook nie wat om daarmee te maak nie. Die groente en vrugte is steeds van topgehalte, maar het dalk kneusplekke op of verkoop nie op mark­te nie. Ek sien toe die geleentheid om ’n netwerk op die been te bring waar ons dié groente en vrugte kan gebruik.”

Dit het omtrent dieselfde tyd gebeur as wat die Grapevine-forum gestig is. Grapevine is ’n netwerk van ongeveer 65 sentrums vir Vroeë Kinderontwikkeling (VKO) in die Worcester-omgewing. Rudolph-hulle het toe besluit om die netwerk van die forum te gebruik om die groente en vrugte na die onderskeie VKO-sentrums te versprei.”

Rudolph vertel hulle het individuele boere in die gemeente genader om te hoor of hulle nie in so ’n net­werk belang sal stel nie. Die Landboudepartement het aangebied om verantwoordelikheid vir die vervoer van die groente te neem.

Elke keer as daar oorskot groente of vrugte op ’n plaas beskikbaar is, bel die boer die departement en hulle vervoer die groente na Bollieland-kleuterskool, een van die VKO-sentrums, waarvandaan dit verder versprei word.

Die plaas

Die groente-netwerk kan nie funksioneer sonder die boere wat gereeld groente verskaf nie. Lizette Kloppers is een van dié boere wat gereeld groente aan die groente-netwerkprojek skenk.

Haar boerdery is ’n geloofsboerdery. ’n Vloed het ’n paar jaar terug al die tonnels op haar plaas verwoes en sy moes van vóór af begin.

Lizette vertel: “Ek was besig met herstelwerk toe ek een oggend ’n stem hard en duidelik hoor sê: ‘Feed my people’. Dit was so duidelik dat ek omgekyk het om te sien wie met my praat, maar ek het dadelik geweet dat dit ’n opdrag van God was.”

Kleuters eet nie net die groente nie. Hulle leer ook van die soorte groente en hoe om dit te skil. Foto: Jacobie M Helena

Dit is van dáárdie oomblik af wat Lizette vir die gemeenskap in en om Worcester boer.

“Hoe meer ek aan die gemeenskap groente voorsien het, hoe meer het ek eerstehands die nood beleef. Ek het baie dae die kindertjies so staan en bekyk en gewonder of ek hulle regtig help, want al wat die kinders moet doen is om in ’n ry te staan met ’n bakkie tot hulle gevoer word. Ek besef dan dat hongerte en siekte ’n realiteit is waarmee die kinders grootword. So, dan voer ek maar weer. Ek wonder nie meer daaroor nie. Geen kind verdien dit om arm, honger en siek te wees nie.”

Lizette bedryf haar eie drie sopkombuise en voorsien ook gereeld groente aan Worcester-Vallei se groen­te-netwerk. Die groen­te word verpak en dan word dit na Bollieland geneem.

Die grootste uitda­ging nou vir die voortbestaan van Lizette se boerdery is die watertekort in die omgewing. “Ons het hierdie week gehoor dat daar nog net water vir die volgende twee maande be­skik­baar is. Ek is op die oom­­blik dag en nag by God se voete oor die water­tekort. Ek dink nie God sal vir my ’n opdrag gee, en dan word die lewensaar afgesny nie. Daar sal ’n uitweg teen daai tyd wees. Ek weet dit,” glo Lizette.

Die sentrale punt

Wanneer die groente deur die Landboudepartement by die plaas gaan haal en na Bollieland gebring word, word dit daar ontvang deur Linda Groenewald, lid van Worcester-Vallei se Diaconia-bediening.

“Daar word weekliks kool, botterskorsies, spinasie en pampoen by Bollieland afgelaai. Dit is my werk om die volgende VKO-sentrums te laat weet hulle kan die groente kom haal. Dit gebeur soms dat ’n skool se onder­wy­sers nie voertuie het nie en ek die groente moet gaan aflewer.”

Die groente-netwerk werk volgens duidelike reëls. Die groente gaan slegs na VKO-sentrums wat in die Grapevine Forum geregistreer is. Die groente word ook slegs aan VKO-sentrums versprei waar die kok­ke reeds die nodige VKO-kokop­leiding ontvang het. Worcester-Vallei het in 2016 betaal vir die kookopleiding vir die VKO-sentrums se kokke (Kerkbode, 6 Junie 2016, “Kokke leer hoe om vir kinders te kook”).

Wanneer ’n VKO-sentrum die groente kom haal, moet hulle daarvoor teken. Hulle moet aandui watter groente en hoeveel daarvan hulle ontvang het. Só word verseker dat daar rotasie tussen die VKO-sentrums plaasvind.

“Ek het uitgewerk dat daar reeds 2 561 kinders van die VKO-sentrums in Worcester alleen voordeel uit dié netwerk getrek het,” vertel Linda.

Die VKO-sentrum

By die VKO-sentrums word die groente vir die kin­ders op verskillende maniere voorberei.

Linda vertel: “Die kokke is tydens die kokopleiding geleer hoe om die groente voor te berei en ook van resepte voorsien. Dit is fantasties om te sien hoe kreatief die kokke hulle opleiding toepas. Ek het al gesien hoe hulle die spinasie in die pampoenkoekies sit dat die kinders nie agterkom hulle eet die spinasie nie.”

Die groente word ook soms as opvoedkundige mid­dels vir die kinders gebruik. Die kinders word ge­leer watter groentesoorte daar is en hoe om die groente te skil.

Dit is finansieel baie moeilik om vir kinders daagliks gebalanseerde maaltye te gee. In die meeste gevalle kan die VKO-sentrums bloot nie die broodnodige gesonde groente en vrugte wat die kinders vir voldoende ontwikkeling nodig het, bekostig nie.

VKO-sentrums ontvang R15 subsidie per kind per dag waarvan slegs 40% vir kos gebruik kan word. Dit beteken daar is R6 wat per dag per kind spandeer kan word om vir die kinders vier keer deur die dag kos te gee.

Die ideaal

Rudolph sê die ideaal sal wees om 12 boere in die netwerk te hê wat maandeliks ’n bakkievrag groente aan die VKO-sentrums voorsien. Die boere ontvang ook ’n Artikel 18A-sertifikaat waarmee die waarde van die geskenkte groente van hulle belasbare inkomste afgetrek kan word.

Lizette moedig ander boere in ander dele van die land aan om by só ’n netwerk betrokke te raak. “Moenie dink dat daar nie soortgelyke projekte ook in jou omgewing is nie. Indien daar nie ’n netwerk is nie, stig een. Jy het oorskot groente en vrugte wat jy nie kan gebruik nie en daar is orals sopkombuise. Ons uitskotgroente is sommige mense se énigste groente.

“Moet ook nie van vrugte vergeet nie. Vrugte is vir die klein kindertjies soos lekkers. Ek sal enige boer in die land aanmoedig om by só ’n projek betrokke te raak. Dit verander daagliks lewens,” sê Lizette.

Linda beaam: “Die groente-netwerk is ’n middel wat die hart van die evangelie reflekteer. Die netwerk strek soveel wyer as slegs die grense van Worcester-Vallei. Ons bly almal in hierdie een land en moet saam hard werk om energie en hulpbronne in ons kinders se lewe in te ploeg.”

Sakke vol groente vir honger magies. In die middel staan Mercia Schee­pers, hoof van die CC Scheepers- dagsentrum. Links is Julaigh Frede­ricks en regs Stefline Mietha, albei studente van Boland Kollege wat prak­tiese werk by Bollieland doen. Foto: Jacobie M Helena

Lizelle bestempel die netwerk as ’n voorbeeld van hoe gelowiges as liggaam van Christus kan funksioneer. “As ’n mens se tand pyn, is jou hele liggaam bewus van die pyn. As daar pyn in die gemeenskap bestaan, hoe kan ons nié daardeur geraak word nie?” wil sy weet.

“Die netwerk help ons om brûe oor denominasies, gelowe, kulture en rassegrense te bou. Die liefde van Christus word deur die groente-netwerk gelééf,” sê Linda.

Worcester-Vallei se visie is immers: “Brandend vir God, mekaar en die wêreld.”

Hoe begin ek ’n groente-netwerk in my eie dorp?

ie NG gemeente Worcester-Vallei speel ’n fasiliteringsrol in die netwerk. Baie van die gemeente se lidmate is op een of ander manier by die projek betrokke. Die gemeentelede spring ook in om te help indien alles nie seepglad verloop nie.

Die groot uitdaging van só ’n netwerk is dat die groente vars by die ontvangers moet uitkom. Dit beteken dat die groente op dieselfde dag wat dit by die boer op die plaas gaan haal word, ook deur die VKO-sentrum ontvang word. Dit gebeur gewoonlik baie vinnig.

Rudolph Röscher, voorsitter van die NG gemeente Worcester-Vallei se Diaconia-bediening, sê: “Hierdie projek pas ’n gemeentekonteks soos ’n handskoen omdat daar in ’n gemeente baie hulpbronne is wat benut kan word. Hy sê by die Diaconia-bediening word daar weinig vir geld gevra, maar dat die projekte nie sonder mense se kundigheid kan werk nie.”

Hy moedig gemeentes in boeregemeenskappe ten sterkste aan om soortgelyke groente-netwerke te begin.

Daar is drie komponente waarsonder dié projek nie kan bestaan nie, vertel Rudolph. In die eerste plek is dit nodig om die boere wat groente en vrugte produseer, te identifiseer. Worcester-Vallei het baie boere as lidmate en daarom kon ons met die boere in gesprek tree oor die groente wat hulle nie kan uit­voer of verkoop nie.

Die tweede belangrike komponent van die projek, is die vervoer. Daar moet persone wees wat bereid is om die groente en vrugte van die plaas na ’n sentrale punt te bring. Dit is beter dat die boer nie óók daaroor hoef te bekommer nie.

In die derde plek moet daar ’n netwerk geskep word waardeur die groente na die onderskeie VKO-sentrums versprei kan word. Dit moet ’n plek wees wat maklik bereikbaar is en verkieslik sentraal geleë is vir die onderskeie VKO-sentrums se personeel wat die groente moet kom haal, sê Rudolph.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top