Murray en Christine Louw is lidmate van die NG gemeente Kempton-Hoogland, maar die Here gebruik hulle al dekades lank om sy boodskap te help uitdra na van die mins-bereikte mense op aarde. NEELS JACKSON het met hulle gesels.
As student op Stellenbosch is Murray Louw tydens ’n sendingweek só aangegryp deur ’n besoekende prediker wat mense vir sending wou mobiliseer, dat hy sy ingenieurstudies wou laat vaar om teologie te studeer.
Hy het gevoel die Here praat met hom oor sendingwerk, maar dat die Here duidelik nee sê vir die gedagte dat hy ’n predikant moes wees.
Hy het toe ’n siviele ingenieur geword en in die destydse KwaZulu gewerk, maar saam met sy vrou, Christine, het hulle by sendingwerk betrokke gebly. Hy het sy werk geniet, maar daar was ’n groeiende begeerte “om meer tyd vir die ewigheid te gee en minder vir grond en beton”.
In 1979 het Murray en Christine hulle vir ’n tyd afgesonder in vas en gebed om die Here se wil te soek vir hulle pad vorentoe. In 1980 het hulle by die Suid-Afrikaanse Aksie vir Wêreldevangelisasie (Saawe) begin.
Hier is die doel om individuele gelowiges en gemeentes te aktiveer om betrokke te raak by sending na die wêreld se mins-bereikte volke. Noord-Afrika en die Midde-Ooste is ’n groot fokus, maar ook lande in Suidoos-Asië en die Verre Ooste.
Om dit te kan doen, werk hulle in netwerke van mense en organisasies wat hierdie visie deel.
Nee, hulle staan gewoonlik nie agter kateders en preek nie, sê Murray. Hulle help graag gemeentes wat onbereiktes wil bedien. Mense wat graag die Here wil leer ken, word geleer en geoefen hoe om Hom self uit die Bybel te ontdek en ontdekkingsgroepies te vorm.
Hulle raak betrokke by mense in nood, leer hulle ken, en bou verhoudings. Ná ’n massiewe aardbewing in Turkye in 1999 en hulle betrokkenheid daar, het hulle besluit om Global Relief as ’n selfstandige bediening te stig.
Ná die tsoenami van Desember 2004 het hulle agt maande lank professionele vrywilligers van Suid-Afrika geneem om in Indonesië (die land wat die swaarste getref is) te gaan help met mediese werk en trauma-ontlonting. Saam met inheemse organisasies en sielkundiges kon hulle honderde plaaslike onderwysers en gemeenskapsleiers oplei.
Mense wat deur sulke groot trauma is, “lek” emosioneel, vertel Murray. Die Zoeloewoord is “vuza”. Hulle moet gehelp word om te treur ten einde vrede te vind.
Maar dit is net die begin, want daarná word die oorlewendes se groter behoefte aangespreek om te droom en te beplan. Murray gebruik ’n ander Zoeloe-woord om dit te verduidelik: “vusa”, wat beteken om wakker te word en te blom. Hierdie werk staan in Global Relief bekend as “vuza vusa”.
Global Relief is onder meer nou in Irak betrokke.
Nuwe tegnologie bring nuwe geleenthede. So het nuwe deure oopgegaan vir ’n nuwe bediening, Ufollo.net. Dit stel vir enige iemand in die hele wêreld in staat om na dissipelskapvideo’s op sy slimfoon te kyk en daarop te reageer. So kan hy of sy die waarheid self uit die Bybel ontdek en ’n volgeling van Jesus word.
Elke maand besoek sowat 4 000 kykers die webwerf en ’n klein persentasie maak kontak en vra vrae of sê dinge soos:
Please sent me more and more mails about jesus … thank you
Really i dsipointed and tried to commit suicide …
How good is that! I have got a new friend Jesus …
Please help me! Please save me!
please help god.
Tussen 20 000 en 50 000 mense word ook maandeliks deur Facebook bereik.
’n Ander bediening waaroor Murray en Christine opgewonde is, is SAT-7, ’n Christelike TV-diens wat na die Midde-Ooste toe uitsaai.
“Hulle het so ’n versigtige evangelisasiebeleid dat Moslems hulle verdra,” vertel Murray. Hulle bring die evangelie, maar nie op ’n aggressiewe manier nie.
Op die vraag hoe gemeentes dié bediening kan ondersteun, antwoord Murray deur te vertel dat hy eendag in SAT-7 se kantoor in Siprus ’n Farsi-sprekende werker raakloop. Dié was baie opgewonde om te hoor dat hulle uit Suid-Afrika kom, omdat ’n huisgroepie in Suid-Afrika gereeld vir haar bid.
Dit blyk toe dat ’n dominee van die NG gemeente Secunda haar en ander SAT-7-werkers vroeër by ’n SAT-7-netwerkberaad ontmoet het en hulle aan sy lidmate toegeken het sodat elkeen ’n groepie het wat vir hulle voorbidding doen en morele ondersteuning gee.
Sulke steun beteken baie vir ’n bediening wat regtig daarin slaag om effektief uit te kom by mense wat andersins baie moeilik met die evangelie bereik sou word.
Christine vertel die verhaal van ’n man van Afghanistan wat op ’n Engelse Bybel afgekom het. Hy het dit probeer lees, maar hoewel hy dit nie kon verstaan nie, het dit ’n gevoel van vrede by hom gelaat. Terwyl hy nog wonder waar hy iemand gaan vind om vir hom te verduidelik wat hy lees, kom hy op ’n dag op die SAT-7-kanaal af – en daar begin dinge in sy eie kamer vir hom helder word.
Murray is nou 74, Christine 70. Hulle begin om hulle pligte af te skaal en die aflosstokkie oor te gee. Maar as hulle oor Saawe se bedieninge praat, glinster hulle oë soos jong mense s’n, want dit help dat die evangelie uitkom by mense op die spreekwoordelike uithoeke van die aarde.
Besoek www.ufollo.net vir meer inligting. Christene wat by dié bediening betrokke wil raak, kan by www.ufollo.net/support gaan kyk.
