SAT-7, ’n TV-diens wat in Siprus gebaseer is en wat Christelike TV-programme in hulle teikengehore se eie kultuur en tale na verskeie lande in die Midde-Ooste toe uitsaai, open binnekort ’n Suid-Afrikaanse kantoor.
Dit staan onder die leiding van ds Francois Botha, vroeër predikant van die NG gemeente Ermelo-Oos, en nou deur dié gemeente uitgestuur vir dié bediening. Botha sê hulle kantoor gaan inligting, gebed- en finansiële steun vir SAT-7 mobiliseer. Daarby wil hulle mense wat daartoe geroepe voel, help om hulle gawes tot beskikking van SAT-7 te stel.
Vir gemeentes wat meer wil weet van SAT-7 en hoe hulle by dié aksie betrokke kan raak, is daar ’n goeie geleentheid. Van 10 tot 20 Maart besoek Rita Elmounayer, adjunk-uitvoerende hoof van SAT-7, Suid-Afrika vir die bekendstelling van die kantoor.
SAT-7 het reeds 18 jaar lank ’n vennootskap met die Suid-Afrikaanse Aksie vir Wêreldevangelisasie (Saawe). Dit behels dat Saawe SAT-7 finansieel ondersteun, maar ook dat hulle mense vertel van SAT-7 en so die netwerk om hierdie bediening uitbrei. (Lees ook die artikel oor Saawe.)
Volgens Christine Louw van Saawe bring SAT-7 in ’n konteks van armoede, oorlog, ongeletterdheid en politieke en godsdienstige verdrukking ’n boodskap van hoop en liefde na mense wat andersins nooit toegang tot die evangelie van Jesus Christus sou hê nie.
Sy vertel hoe hulle ’n Siriër raakgeloop het wat wou bars van opgewondheid toe hulle vir hom ’n Nuwe Testament wys. “Ek het dit nodig, asseblief!” het hy gesê. “Ek het nou 3 maande lank na hierdie Christelike TV gekyk en ek móét hierdie Boek hê.” En hy het hom gekry.
Die nuutste navorsing wys dat meer as 20 miljoen Midde-Oosterlinge gereeld na SAT-7 se uitsendings kyk.
Die program vir Rita Elmounayer se besoek is by www.Sat7sa.org beskikbaar.
