Die Tussenkerklike Raad (TKR) van die drie Afrikaanse susterkerke sê president Zuma se optrede blyk dat hy óf nie verstaan wat die gevolge kan wees vir die burgers van ons land nie, óf dat hy eenvoudig nie omgee nie.
Dié raad is ʼn interkerklike liggaam wat uit die NG Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika bestaan.
Dít kom na Zuma se middernagtelike kabinetskommeling op 31 Maart.
Daarom rig hulle nou ʼn ernstige appèl aan die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) van die ANC in: Hou julle leier verantwoordelik om beslissend op te tree in die belang van die land as geheel.
“Julle optrede nóú sal bepaal wat die siening van gewone Suid-Afrikaners is van julle eie moraliteit en integriteit.”
Die TKR het ook gister in ʼn verklaring gesê: “Sy optrede het weereens gelei tot ʼn vermindering in ons geldeenheid se waarde, ʼn uitvloei van kapitaal uit Suid-Afrika, en onsekerheid oor die land se kredietgradering.”
Intussen is die onsekerheid vervang met die slegte nuus dat Suid-Afrika wel afgegradeer is na rommelstatus.
“Elke persoon wat gesag uitoefen, doen dit in verantwoordelikheid teenoor die almagtige God, en sal voor Hom verantwoordelik staan oor die manier waarop hy/sy hierdie mag tot voor- of nadeel van God se mense uitgeoefen het,” sê die TKR.
In dié verklaring verwys die Raad ook na hulle vergadering met die NUK in Augustus 2015 en ʼn brief aan die leierskap in April 2016, na die “eenparige uitspraak” van die konstitusionele hof oor die Nkandla-skandaal.
Hierna het die leierskap nogmaals “geen ag geslaan” op die TKR se ernstige waarskuwing nie, lui die verklaring.
Die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) het ook ʼn verklaring na Zuma se kabinetskommeling uitgereik. Hulle doen ʼn beroep dat Zuma as president verwyder word: “We declare him unfit to further lead the country and we call on all representatives of the people of the parliament to institute the necessary steps to remove president Zuma from the presidency.”
Beide die TKR en die VGKSA onderneem om steeds vir die regering en Suid-Afrika se mense te bid.
Volg hierdie skakels vir die volledige verklarings van die TKR (PDF-dokument) en die VGKSA.
