Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Grafika: Hanno Coetzee

NG lidmate op hulle knieë

NG lidmate regoor Suid-Afrika gaan die naweek van 22 April saam met ander Christene vir Suid-Afrika bid.

Die evangelis, Angus Buchan, se It’s time-bid­byeenkoms op 22 April in Bloemfontein én die Zuma-debakel noop Christene om saam op hulle knieë te gaan vir Suid-Afrika.

NG lidmate gaan óf deelneem aan interkerklike bidbyeenkomste in hulle tuisdorp, gaan self byeenkomste by hulle huis reël óf gaan na die It’s time-bid­byeenkoms opruk.

Ds Jan Steyn, leraar by die NG gemeente Swartland-Noord in Malmesbury, sê hulle het ’n Daniëlkonferensie, wat op dieselfde naweek as die It’s time-byeenkoms sou wees, afgestel. Hy verduidelik die rede is omdat talle lidmate óf self Bloemfontein toe gaan om te bid óf versoeke gerig het vir ’n bidbyeenkoms in Malmesbury.

“Daar is drie busse wat vanuit Malmesbury na Bloem­fontein gaan ry en talle van ons lidmate gaan ook saam. Ons dorp se Christene gaan ook ’n inter­kerklike gebedsbyeenkoms hier in Malmesbury op 23 April van 17:00 tot 18:00 by die AGS Die Wingerd hou,” sê Steyn.

Ds Gawie Gouws van die NG gemeente Swellendam sê hulle dorp gaan ook ’n interkerklike gebeds­byeenkoms op 22 April van 13:00 tot 14:00 op die skou­gronde hou.

“Ek dink die politieke gebeure van die afgelope ruk het die behoefte om saam vir Suid-Afrika te bid by mense verskerp,” sê Gouws.

Volgens Felicia Lategan, kommunikasiebeampte by NG gemeente Moreletapark in Pretoria, is daar sowat agt busse wat vanaf hulle kerkgronde vroeg Saterdag­oggend na Bloemfontein vertrek.

Moreletapark gaan nie by hulle kerk ’n gebedsbyeenkoms hê nie, maar lidmate word aangemoedig om Jerigomure-gebedsnetwerk se riglyne te volg as hulle nie die byeenkoms in Bloemfontein kan bywoon nie.

Op Jerigomure se webwerf word Christene aange­moedig om ’n gebedsbyeenkoms by hulle huis op 22 April vanaf 12:00 tot 14:00 te hou. “Probeer om Christene van verskillende denominasies, taal of ras te nooi,” lui die webwerf.

“Die idee is om lidmate die gereedskap te gee om uit te gaan en sélf iets te doen as hulle nie Bloemfontein toe kan gaan nie. Ek het op ons Facebookblad byvoorbeeld van ’n gemeentelid gelees wat so ’n gebedsbyeenkoms vir tuiswerkers by haar huis reël,” sê Lategan.

No data was found
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top