Die politieke gebeure die afgelope weke in ons land was intens en uitdagend. Die president en sy medeleiers moet eenvoudig verantwoordelik gehou word vir die politieke en ekonomiese toestand waarin ons land verkeer.
Verskeie staatsdepartemente het oor die afgelope aantal jare hopeloos gefaal in hulle verantwoordelikheid teenoor die mense van Suid-Afrika. Hierin het swak aanstellings plus ’n gebrek aan ’n kultuur van verantwoordbaarheid ’n groot bydrae gelewer.
Die president is nooit deur sy party of die parlement verantwoordbaar gehou vir onder meer die Nkandla-skande nie. Die konstitusionele hof moes hom dwing om verantwoordelikheid te aanvaar. Die hof het ook gesê dat hy as president nie sy verantwoordelikheid teenoor die grondwet van Suid-Afrika nagekom het nie. Ook het ministers die een mislukking na die ander in hulle portefeuljes aangeteken sonder dat hulle verantwoordelik gehou is óf hulle posisie in die regering in gedrang gekom het.
Die onlangse kabinetskommeling het klaarblyklik niks te doen gehad met die meriete van ministers se werk nie. Die sekerste bewys hiervan is die heraanstelling van Batabile Dlamini. Die hoogste hof het pas aangedui dat sy misluk het as Minister van Welsyn met haar hantering van die uitbetaling van staatstoelae. Sy het die land gelei tot op die rand van ’n afgrond. Maar sy is weer aangestel in die nuwe kabinet.
Bekwame ministers moes egter waai. Die uiters verdagte verslag oor Pravin Gordhan wat kwansuis die regering in die buiteland sou gaan saboteur, spreek boekdele oor die moraliteit wat in hierdie prosesse gegeld het. Ministers wat die president se leierskap bevraagteken het, het in die slag gebly.
Dis duidelik dat ons land by ’n kruispad gekom het.
Die frustrasie van opposisiepartye en die burgerlike samelewing, waarby ingeslote ekumeniese liggame soos die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK), The Evangelical Alliance of South Africa (TEASA), die Nasionale Kerkleiersforum, en die Tussenkerklike Raad (NG Kerk, Gereformeerde Kerke en die Hervormde Kerk) met die president en die regering se onbekwaamheid in baie departemente, het kookpunt bereik.
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/01/J-van-Rensburg-Nelis.jpg” caption=”Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.” align=”right” width=”270px” force_circle=”off”]
Die land ly tans ongekende skade, nie net oor Standard & Poor se rommelstatusbesluit nie, maar ook as gevolg van ontoereikende basiese onderwys, gebrekkige naskoolse opleidingsgeleenthede, te min werksgeleenthede, mislukte polisiëring op talle plekke, bedenklike ekonomiese transaksies en … en … en.
Die vraag is hoe ons protes kan aanteken. In ’n demokratiese staat is daar ’n veeltal opsies. Die stembus het waarskynlik die sterkste impak. Daar is egter ook die parlement waarin openbare debat gevoer word en misbruike aan die kaak gestel kan word. Daar is die openbare media waarin debat gevoer kan word, en beweerde onreg aan die lig gebring kan word. Daar is geleenthede vir openbare protes by wyse van petisies en optogte as ’n demonstrasie van verset. Daar is howe waarin leiers tot verantwoording gedaag kan word op grond van wetlike of gemeenregtelike oorwegings. Daar is die Artikel 9-instellings soos die Openbare Beskermer en die Ouditeur-generaal. Daar is burgerregtelike organisasies en talle nie-regeringsorganisasies wat geleenthede bied om op ’n ordelike wyse protes aan te teken.
Die NG Kerk het onlangs saam met TEASA ’n baie sterk appèl gemaak op ANC-LP’s om die president verantwoordbaar te hou en nou in belang van Suid-Afrika se mense op te tree. Hierdie oproep het gevolg op talle ander appèlle op die president en die regering.
Christene het ’n dure verantwoordelikheid om hierdie opsies te benut en te stry teen die verontregting van mense. Dit is immers armes en randfigure wat die implikasies van swak leierskap die ergste voel.
Ons moet profeties onreg uitwys en op die naam noem. Ons moet doelgerig deelneem aan die geleenthede vir protes en verset. Maar, en dit is baie belangrik, ons moet dit doen met behoud van ons Christelike waardigheid.
Vloek en skel pas immers nie by ons getuienis nie. Karaktermoord is nie ons ding nie. Rassisme is nie hoe Jesus ons geleer het nie. Moedeloosheid en neerslagtigheid is nie die styl van dissipels van Jesus nie. Die verkondiging van onwaarhede net omdat die doel die middele heilig, sal ons net so skuldig maak soos diegene teen wie ons protesteer. Veralgemenings oor mense, dit wil sê om mense in groepe te plaas en dan as sodanig te vervreem met afwysende of neerhalende uitsprake, pas nie by ons nie.
Geesvervulde mense is mense met hoop. In Handelinge 2 sê Petrus, dit is mense wat gesigte sien en drome droom van Jesus se heerskappy. Die Heilige Gees gee ons oë vir ’n beter toekoms en laat ons ’n wêreld visualiseer wat ’n voorloper is tot die ewige koninkryk. Daarin is liefde en goedgesindheid teenoor alle mense die onderliggende motief. Daarin is vergifnis en genade die fondasie. Daarin is geregtigheid ’n hoeksteen. Ons sal nie goed doen as ons in die komende maande praat soos almal, protesteer soos almal, haat en rasse-stereotipes versterk soos baie nie.
Ons ware karakter blyk dikwels die beste wanneer ons kwaad is. Ons moet nou ons ware kleure wys. Dis die kleure van mense wat Paasfees gevier het, en die heerskappy van Jesus ook in hulle protes en verset beliggaam.
▶ Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.