Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Ds Jan Oberholzer en ds Mia Lintvelt, albei dosente by DCMA. Hier wys hulle hoe “DCMA” in gebaretaal lyk. Foto: Conette le Roux

DCMA – enigste ‘kweekskool’ vir Dowes in Afrika

DCMA is die enigste opleidinginstansie vir dowe dominees in Afrika. CONETTE LE ROUX het meer gaan uitvind oor die opleiding en uitdagings.


Daar is tussen 400 000 en 600 000 gebaretaalgebruikers in Suid-Afrika.

Maar 11 jaar gelede was daar steeds net ses gemeentes vir Dowes in die ganse Suid-Afrika – NG De la Bat Bellville, NG Pretoria Dowes, Worcester De la Bat, Efata vir Dowes in Kemptonpark, Deo Gloria AGS in Pretoria en die Katolieke gemeente vir Dowes in Pietermaritzburg.

Intussen het daar gemeentes vir Dowes in Mthata, King Williams Town (Mntansane), Swaziland, Zim­bab­we en Qwa-Qwa bygekom.

Die rede? Die ontstaan van die Deaf Christian ­Ministry Africa (DCMA), ’n interkerklike opleidings­in­stan­sie wat Dowes oplei om dominees te word. Die af­gestudeerde studente het dié nuwe kerke gestig.

Ds Jan Oberholzer, wat aan die hoof van DCMA staan, vertel dié ses gemeentes het destyds koppe bymekaar gesit omdat hulle bekommerd was oor die voortbestaan van die gemeentes vir Dowes. Hoe gaan dié gemeentes in die toekoms bedien word as huidige domi­nees nie meer daar is nie? Hulle besluit toe wat sal nou beter wees as Dowes wat Dowes bedien. Maar, om dié persoon die nodige outoriteit te gee, móés hulle opleiding ontvang. En só het DCMA op 10 April 2006 sy deure geopen in die De la Bat-gemeente in Worcester as deel van die Nasionale Instituut vir Dowes (NID).

“Ons het aanvanklik gedink om dowe sendelinge op te lei, maar toe besluit ons dié mense moet opleiding kry wat deur die hoofstroomkerke en geloofsgroepe van Dowes aanvaar word,” vertel Jan in die konsistorie van die gemeente waar die klasse ook plaas­vind omdat hulle nie tans hulle eie kantore het nie. Hulle droom nog oor die aanbou van klaskamers en kantore.

Die DCMA gebruik die leermateriaal van Veritas College International (VCI) wat in Wes-Australië geakkrediteer is. Dié materiaal word vir drie jaar gebruik waarna die betrokke kerk die kurrikulum met kerk-eie materiaal vir die student se finale jaar verskaf. ’n AGS-student sal byvoorbeeld opleiding ontvang wat dié kerk se kerkorde, dogmatiek en kerkgeskiedenis insluit, verduidelik ds Mia Lintvelt, dosent by DCMA sedert die ontstaan van die instansie.

Die AGS Kerk het eerste DCMA as amptelike opleidingsentrum vir Dowes goedgekeur.

Die NGK het tydens die Algemene Sinode van 2008 goedgekeur dat DCMA Dowes kan oplei met die oog op uiteindelike legitimasie en beroeping met die spe­sia­le opdrag om Dowes te bedien. So is die opleiding toe deur die kuratorium van die NG Kerk goedgekeur.

Die VGKSA het ook DCMA as ’n opleidingsinstansie vir dowe predikante goedgekeur. Hulle het besluit om dominees wat hier opgelei word gelykstaande aan ander dominees van die VGKSA te legitimeer, verduidelik Mia.

Volgens Mia gebruik DCMA opleidingsmateriaal wat veral fokus op kennis van die Bybel en die aanleer van bedieningsvaardighede binne die student se konteks. Al die materiaal is ook spesiaal aangepas vir Do­wes. Klasse word in gebaretaal aangebied en assesse­ring word ook op doof-toeganklike maniere gedoen. Studente doen ook reeds van hulle eerste jaar prakties in die plaaslike dowe gemeente, waar hulle leer om die evangelie aan ’n wye verskeidenheid dowe persone te kommunikeer.

Mia sê dis ook belangrik om te weet dat ’n dowe ge­meente dalk baie anders as ’n horende gemeente gaan lyk. Dit beïnvloed ook die opleiding omdat hulle unieke pastorale en sosiale omstandighede het.

“Dowes woon dikwels versprei. Met ander woorde gemeentes is gewoonlik klein. Daar is ook ’n baie hoë werkloosheidsyfer onder Dowes. Dié wat werk doen in baie gevalle hande-arbeid, wat beteken hulle inkomste is nie so hoog nie. Dit beteken armoede is ’n groot uitdaging.

Sy verduidelik dowe studente word dus voorberei dat hulle waarskynlik tentmakers sal wees, wat alternatiewe bronne van inkomste sal moet soek. Hulle word reeds in hulle eerste jaar opgelei om ondersteu­ning van persone en instansies te begin werf.

“Selfs die betaling van hulle eie studies is dikwels ’n uitdaging, veral omdat die gemiddelde ouderdom van die studente hoër is en hulle in baie gevalle reeds ge­sin­ne het wat ook onderhou moet word,” sê Mia.

Daar is ook nuwe verwikkelinge by DCMA wat nou Suid-Afrikaanse geakkrediteerde opleiding sal beteken.

Volgens dr Willie van der Merwe, rektor van Hugenote Kollege, is daar tans onderhandelinge tussen DCMA en NID sodat DCMA uiteindelik ’n leer­sentrum van Hugenote Kollege by NID sal word.

“Hugenote Kollege het reeds ’n sertifikaat in Teologie en Bediening by die HWSETA geakkrediteer en is tans besig om verdere kursusse te ontwikkel en dit binne die hoër onderwys- en opleidingsisteem te akkrediteer. Hierdie kursusse sal verwerk word sodat dit vir dowe persone toeganklik is en sodoende word die geleentheid aan dowe persone gebied om geakkre­di­teerde kwalifikasies in teologie en bediening te bekom. Hugenote Kollege is ook reeds deur die Kuratorium van die NG Kerk Wes-Kaapland as ’n teologiese opleidingsinstelling geakkrediteer en wanneer DCMA ’n leersentrum van Hugenote Kollege word vergemaklik dit ook DCMA se toegang tot die Kuratorium,” sê Van der Merwe.

Interessante feite

  • 12,5 meter is die maksimum afstand vir ’n per­soon om te kan spraak lees.
  • ’n Spreker of dominee kan nie helder kleu­re, patrone of groot juwele dra nie. Dit trek Do­wes se aandag van die boodskap af.
  • Die kerk vir Dowes in Worcester het geen vensters nie, omdat die lig die kommunika­sieproses kan versteur.
  • ’n Klaskamer of kerk vir Dowes moet in amfiteaterstyl gebou wees en sprekers moet tot die middellyf gesien kan word, aan­ge­sien dit die ruimte is waarbinne gebaretaal plaas­vind.

Lees ook ’n ‘Nuwe wêreld’ vir dowe proponent.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top