Betty Wanza het op sesjarige ouderdom gedink sy is die enigste Dowe in die hele wêreld. Tot sy by die Nuwe Hoop Sentrum vir Gehoorgestremdes gekom het. Sy het ook gedink sy sal nooit dominee kan word nie. Maar dit kán. CONETTE LE ROUX het na haar merkwaardige storie gaan luister.
“Ek het gedink ek is die enigste Dowe in die hele wêreld! Maar toe ek by die skool kom sien ek nog mense soos ek. Én die snaakse tekens wat ander dowes met hul hande maak.”
Só vertel proponent Betty Wanza (49), waar sy in die konsistorie van die De la Bat-gemeente in Worcester sit.
Hier het sy onlangs vier jaar teologiese opleiding by Deaf Christian Ministry Africa (DCMA) ontvang. Haar ouddosente, ds Mia Lintvelt en ds Jan Oberholzer, verduidelik dat sy in die VGKSA gelegitimeer is, maar dat hulle hoop die VGK sal haar binnekort bevestig.
Betty gesels oor toe die stilte skielik deel geword het van haar lewenspad. Jan tolk.
Sy is as horende persoon gebore, sê Betty, maar het omtrent op vierjarige ouderdom haar gehoor as gevolg van breinvliesontsteking verloor. Skielik was die geluide van Kareedouw in die Langkloof stil. “Ek moes van voor af leer om te kommunikeer, te kruip en toe te loop,” sê Betty terwyl sy ver terugdink.
Betty het op sesjarige ouderdom met haar skoolloopbaan by die Nuwe Hoop Sentrum vir Gehoorgestremdes in Worcester begin.
Haar aanvanklike pad saam met ander Dowes was moeilik: “Dit het my baie lank gevat om gebaretaal te leer. Omtrent ’n jaar en ’n half.”
Betty se plan was nooit om dominee te word nie. “My passie was altyd net om God se Woord met ander te deel. Ek het in elk geval nie gedink dit sal ooit vir my as Dowe moontlik wees om ’n dominee te word nie!”
Sy het ’n groot passie vir kinders en daarom was sy voor haar studies 20 jaar ’n koshuismoeder vir kleuters by haar alma mater. “Toe DCMA onder die dowe gemeenskap bekend raak, het ander my aangemoedig om in te skryf. Ds Jan het vir my verduidelik ons gaan baie in Engels werk en met die geskiedenis van die Bybel. Maar ek was nie bang nie, ek wou dit doen,” sê Betty.
“’n Nuwe wêreld het met my studies vir my oopgegaan.”
En dan verander haar vriendelike gesig skielik: “Ek is baie bekommerd oor die dowe gemeenskap omdat hulle so baie mis.”
Sy verduidelik: “Hulle mis die Woord van God. Ek het byvoorbeeld nie die kruisdood verstaan nie. Ek het net verstaan Jesus is gekruisig en is dood. Ek het so skuldig gevoel as ek iets verkeerds gedoen het. By DCMA het hulle verduidelik dat Jesus vir ons sondes gesterf het om ons te red.”
En daarom maak sy dit haar taak om dié boodskap aan ander Dowes oor te dra.
Terwyl Betty kommunikeer lewe haar gesig en oë. Haar hele lyf praat saam terwyl sy “gesels”. Uiters gepas omdat Dowes glo van drama hou, vertel dié drie predikers. Sondae preek Betty by die Nuwe Hoop en dan bewéég sy, want só het DCMA haar geleer.
“Ek is mal oor praktiese prediking. Ek voer gewoonlik vir die kinders ’n scenario in hulle alledaagse lewe op om byvoorbeeld ’n gelykenis te verduidelik,” sê Betty.
Jan, ook predikant by die De la Bat-gemeente in Worcester verduidelik: “Jy kan nie vir Dowes net die gelykenis uit die Bybel lees nie. As jy byvoorbeeld die Barmhartige Samaritaan wil verduidelik, sal jy eers dalk ’n moontlike scenario opvoer van hoe Dowes dalk by ’n braai hul rug op ’n horende draai en glad nie met hom of haar meng nie. Net omdat hy of sy anders is. Dan vra jy jou lidmate of dit reg is om so op te tree. En daarna volg jy met die gelykenis in die Bybel.”
Betty sê sy is skoon uitgeput as sy Sondag by die huis kom na ’n erediens en dan moet sy eers bietjie op haar stoel by die huis gaan sit.
“Maar nie vir lank nie, want dan moet ek vir my man en my kind kosmaak,” lag sy. Haar man, Jonathan is ook doof en haar seun, Delaino, is horend. Betty het hom op tweejarige ouderdom aangeneem nadat haar sussie skielik oorlede is aan tuberkulose.
Betty se week verloop só: Dinsdae het sy belydenisklas, Woensdae VCSV met die graad 4’s tot 7’s, Donderdag VCSV vir graad 8’s en 9’s én kinderkrans vir 250 klein kindertjies. En Vrydae is beradingsdag waar sy met probleme soos seks, afknouery, dwelms en alkoholisme werk.
En die kinders is nie bang om met Betty oor dié probleme te gesels nie.
“Die kinders het ’n baie gemaklike verhouding met my. As ek verby hulle loop sing hulle ‘Jesus lewe! Jesus lewe!’ of hulle vra ek moet net daar vir hulle bid.”
Lees ook DCMA – enigste ‘kweekskool’ vir Dowes in Afrika.
