Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Die ‘Tussen-Testamentêre tydperk’ toe nooit stil

EARLY JUDAISM: THE EXILE TO THE TIME OF JESUS
Deur Frederick J Murphy
Uitgewer: Hendrickson Publishers, 2002

Resensie deur Jacobus de Bruyn


Die meeste dominees en lidmate het seker geleer van ’n sogenaamde “stil-tyd­perk” tussen die Ou en Nuwe Testamente.

’n Periode van ongeveer 400 jaar ná die profeet Maleagi se optrede waarin die stem van die Here “stil” is tot by die optrede van Johannes die Doper. Hierdié boek van Murphy het my egter vir die eerste keer laat besef hoe verkeerd die gedagte aan ’n sogenaamde “stil-tydperk” is.

Die boek is bedoel as ’n inleiding tot die Tweede Tempel-periode (520 vC – 70 nC). Hierdie Tweede Tempel-periode is die tydperk waarbinne Judaïsme hervorm is tot ’n suiwer monoteïstiese godsdiens. Dit is as deel van hierdie hervormingsbeweging binne die Ou-Testamentiese godsdiens dat die Ou-Testamentiese kanon en sy Griekse ekwivalent, die Septuagint (LXX) gevorm is as Woord van God. Die Septuagint was dan ook, vir die eerste ± 400 jaar van die Kerk se bestaan, die “Bybel” van die vroeg-Christelike Kerk. Die Tweede Tempel-periode is dan ook die milieu waarbinne Jesus optree en die Kerk tot stand kom. Early Judaism het my dus laat besef hoekom en hoe selfs ook die Deutero-kanonieke boeke vir ons as Protestante belangrik is.

Hierdie boek het my gehelp om te snap hoe groot die impak van die Babiloniese ballingskap op die psige, politieke verwagtinge en godsdiens van Israel was. Op ’n praktiese manier het die boek my gehelp om te verstaan hoe om die beginsels binne Levitiese wette te ontdek en hoe om dit betekenis te laat kry in ons eie tyd vandag. Hiermee saam het Early Judaism my gewys hoe belangrik die geskiedenis van byvoorbeeld die Hasmoniese konings is om iets dieper agter die optrede van Jesus by die reiniging van die tempel tydens die Fees van die Tempelwyding te verstaan. Die boek gee ook ’n goeie blik op die moontlike invloed van die Qumran-gemeenskap op die Nuwe Testament en verduidelik verder ook die optrede van Jesus binne die konteks van sy Joodsheid en die Joodse wêreld van sy tyd.

In kort het Early Judaism my gewys hoedat God aktief tydens die Tweede Tempel-periode tussen sy mense betrokke was, soveel so dat sy stem nooit stil was nie.

▶ Dr Jacobus de Bruyn is leraar by die NG gemeente Bergville aan die voet van die Drakensberg in KwaZulu-Natal.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top