Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Andrew Murray het geglo én gedoen

“Andrew Murray het baie oor spiritualiteit geskryf, maar hy het óók instellings gestig. Hy het iets verstaan van wat in jou binnekamer aangaan moet ooreenstem met wat op straat gebeur.”

Só merk dr Frederick Marais op tydens die Andrew Murray-Desmond Tutu-gesprek wat op 7 Mei by die NG Moedergemeente in Wellington plaasgevind het. Vanjaar het dr Coenie Burger en Marais met ds Laurie Gaum, wat die gesprek gefasiliteer het, gesels. Dié gespreksgeleentheid is vir die negende jaar deur die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit gereël.

“Die inspraak van God se teenwoordigheid in gelowiges se lewe, soos ons met Andrew Murray se lewe gesien het, moet uiting in die werksplek kry. Dié Goddelike inspraak moet mense uitnooi om transformasie teweeg te bring. Wat ons hier in Wellington vandag sien, is die gevolg van ’n sterk geestelike leier en missionale teoloog wat sy Christelike identiteit met nederigheid en gasvryheid geleef het en vreemdelinge ingenooi het. Hy het vanuit ’n diep Christelike identiteit geleef,” sê Marais.

“Andrew Murray se missionale spiritualiteit moet volgens Johannes 15 verstaan word. Die metafoor van die wingerdstok en die lote illustreer iets van ons broodnodige vereniging met Christus. In die laaste paar jaar het ons met dissipelskapterme en navolging-van-Christus-taal die idee van vereniging met Christus vervang. Ons moet die vereniging-met-Christus-taal weer optel, want ons het béide dissipelskapstaal en vereniging-met-Christus-taal nodig,” sê Burger.

Andrew Murray het volgens Burger en Marais met sterk geloofsdissiplines en geloofsritmes geleef.

“Andrew Murray het besef dat geloof nie net verstaan moet word nie, maar ook ervaar en belééf moet word. Hy het ’n boek geskryf waar daar vir elke dag van die week riglyne gegee word ter voorbereiding op die nagmaalsdiens die komende Sondag. In ons moderne tyd het ons lewensritmes in verbruikersterme begin verstaan en leef ons nie meer uit diepe afhanklikheid van ons Christelike identiteit nie. Mag ons die ongelooflike warm spiritualiteit wat Andrew Murray geleef het weer in die NG Kerk herstel,” sê Marais.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top