Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.
Die ondertekening van die Wittenberg-verklaring op 5 Julie 2017 was die hoogtepunt van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) se Algemene Vergadering. Dit is ’n wonderwerk dat Gereformeerdes en Katolieke mekaar kon vind oor een van die belangrikste leerstellings, naamlik dat ’n mens slegs deur geloof en Christus se genade gered kan word.
Die tema van die byeenkoms in die jaar waarin die Reformasie 500 jaar gelede herdenk word, was “Lewende God, vernuwe en verander ons.” Die Algemene Vergadering het iets van die voortdurende vernuwing van die kerk prakties uitgeleef deur daarop aan te dring dat ’n groot deel van die afgevaardigdes uit vroue en jongmense moet bestaan.
’n Besluitnemingsproses wat klem lê op onderskeiding en konsensus is gebruik. Die vergadering het ’n nuwe beleidsdokument oor vroue in die amp van predikant aanvaar. Dit beteken dat alle lidkerke, waarvan heelwat nie vroue as predikante toelaat nie, versoek word om hulle beleid hierby aan te pas.
Daarby is ’n vrou, ds Najla Kassab van die National Evangelical Synod of Syria and Liebanon, as nuwe president van die WGGK gekies. Dr Elize Morkel, een van die NG Kerk se afgevaardigdes, het haar preek in die stadskerk in Wittenberg as ’n hoogtepunt beskryf: “Haar breë glimlag en gemaklike, vriendelike ‘And here I stand’ was ’n kragtige beliggaamde getuienis van hoe die lewende God die kerk transformeer en vernuwe.”
[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2016/08/Niemandt-Nelus-Suid-Tvl1.jpg” caption=”Prof Nelus Niemandt doseer sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]
Daar is sterk gefokus op geregtigheid, veral rondom internasionale brandpunte. Daar is telkemale na die Accra-deklarasie (2004) verwys, en sprekers het die begrip “empire” gebruik om iets uit te druk van die magte wat die ekologie, geregtigheid en welsyn van die mensdom bedreig. Die vergadering het die G20-beraad versoek om die Parys-ooreenkoms oor klimaatsveranderings te steun.
Die WGGK het deeglik aandag gegee aan eenheid tussen lidkerke. Daar is baie gedoen om die teologie van ekumene en eenheid te versterk. Die besprekings hieroor het gebou op die Ryk van God en hoe dit die beste gedien word as die noue band tussen eenheid en geregtigheid vasgehou word.
Een van die kenmerke van die vergadering was die belegging in teologiese ontwikkeling van jongmense. Die WGGK het ’n maand voor die byeenkoms meer as 50 jong teoloë vanuit al die lidkerke by die Global Institute of Theology (GIT) byeengebring en hulle deel gemaak van die prosesse in die vergadering. Die NG Kerk was ook hier sterk verteenwoordig.
Die voormalige Algemene Sekretaris van die NG Kerk, dr Kobus Gerber, het sy termyn as lid van die Algemene Raad van die WGGK afgesluit. Na sy mening is winde van verandering aan die opsteek. Hy is van mening dat die hermeneutiek van die ekumeniese liggaam verskuif. Die klem op die “empire” en die groter invloed van nuwe kerke uit die globale suide, sal lei tot ander beklemtonings.
Die byeenkoms is veral gekenmerk deur die fyn aandag aan liturgie en aanbidding. Daar was ’n feestelike diens in die Domkerk in Berlyn, ’n diep ontroerende gebedsdiens in die St Nikolaikerk in Leipzig (waar sterk weerstand was teen kommunisme in Oos-Duitsland) en ’n orrelkonsert in die St Thomas-kerk – waar JS Bach byna 30 jaar lank orrelis en musiekmeester was.
▶ Prof Nelus Niemandt doseer sendingwetenskap aan die Universiteit van Pretoria.