Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Ons behoort aan die land’ – Krotoa

KROTOA
Met Crystal-Donna Roberts
Draaiboek deur Kaye Ann Williams en Margaret Goldsmid
’n Film van Roberta Durrant


Die veelbekroonde biofliek Krotoa het waarskynlik nie om dowe neute in Vroue­maand, enkele dae voor Vroue­dag, in teaters landwyd begin draai nie. Krotoa se blootstelling as meisie en later as vrou aan ’n “vreemde” kultuur van wit chauvinisme, kolonia­lisme, knegskap, die Bybel en gewere, word treffend in hierdie film verbeeld.

Boonop is Krotoa se epogmakende verhaal hier deur vroue herskep: die draaiboekskrywers en ver­vaar­diger is vroue, en die hoofrol word uitmuntend deur Crystal-Donna Roberts vertolk. Krotoa het reeds agt toekennings ontvang en word internasio­naal as ’n besondere produksie gesien.

Krotoa se lewensverhaal in die middel van die 17de eeu sal die huidige diskoers oor kolonialis­me seker verder stimuleer, soos ook die grondeisedilemma. Miskien kan ons almal iets leer van Krotoa se wys­heid: “Die land behoort nie aan ons of julle nie, maar ons (almal) behoort aan die land.”

Ten spyte van Krotoa se waarskynlike skerp intellek, haar taalvaardighede, strategiese denke en diplomasie, het sy heel moontlik aan post-trau­matiese stres gely en alkohol het die oorhand oor haar gekry. Die Nederlanders het die eerste inwoners van die Kaap, die Khoi-Khoi, nie net aan die Bybel nie, maar ook aan tabak en alkohol bekend gestel. Dié items is as ruilmiddels vir vars vleis aangebied. Die dopstelsel het ook mettertyd ontwikkel.

Nie alle filmresensente dink Krotoa is ’n goeie fliek nie. Sommige kritiseer ook die gebruik van Afri­kaans in plaas van Nederlands.

Verder is die biografiese inligting oor Krotoa in historiese dokumente beperk en waarskynlik eensydig. Die skrywers was dus genoodsaak om baie afleidings te maak.

Maar gaan kyk gerus na hierdie fliek. Dit bied ’n nuwe perspektief op die “Eva” van wie baie van ons in skoolgeskiedenis geleer het. Onthou om ook aan die einde van die fliek die uitrol-inligting te lees. Inderdaad, ons is ’n “groep sonder grense” om die destydse woorde van dr Hans Heese te gebruik.

Krotoa van Meerhof het ’n aandeel hieraan gehad. Ons behoort almal aan ons land, Suid-Afrika.

▶ Dr Pieter van Niekerk is ’n teoloog van die Suid-Kaap.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top