Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2024

Hier staan ons …


Die Reformasie het nie net oor kerk en teologie gehandel nie. Dit was ’n protesaksie teen die uitbuiting en misleiding van mense deur kerk en staat – teen korrupsie. 500 jaar later eis die tyd waar­in ons leef in die land waarin ons leef van gerefor­meerdes, van die kerk van die Reformasie om op te staan en om in die woorde van Luther te sê: Hier staan ons, ons kan nie anders nie.

Volgens oorlewering was die eerste groot daad van protes teen die misleiding van lidmate, Luther se optrede op 31 Oktober 1517 toe hy sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het. Die aan­leidende oorsaak tot hierdie gebeure was die aflaat­stelsel waarmee die kerk mense mislei en uitgebuit het.

Volgens die aflaatstelsel het Christus, Maria en die heiliges sonder sonde geleef. Hulle het ’n groot aantal goeie werke gedoen wat in die hemel gestoor is. Wanneer gewone mense gesterf het, het hulle met meer sonde as goeie dade in die hiernamaals aangekom. Dit het beteken dat hulle eers na die vaevuur moes gaan waar hulle ongekende lyding ervaar het voordat hulle in die hemel toegelaat sou word. Familie en vriende van iemand wat gesterf het kon so ’n persoon se tyd in die vaevuur verminder deur aflaatbriewe te koop.

Hierdie stelsel waarmee gelowiges mislei is, het enor­me bedrae geld vir die kerk en die staat ingebring.

Johann Tetzel, ’n Dominikaanse monnik was ver­ant­woor­delik vir die verkoop van aflaatbriewe in die omge­wing van Wittenberg. Hy het die bemarking van aflaatbriewe gewoonlik afgeskop deur ’n groot vuur op die dorpsplein te maak. Dit moes gelowiges aan die vaevuur herinner. Daarna het ’n emosionele preek ge­volg waarin gelowiges opgeroep is om aflaatbriewe te koop ter wille van familie en vriende wat in die vaevuur aan die brand was.

Volgens Luther kon hierdie misleiding nie langer voortgaan nie en daarom kon hy nie langer stilbly nie.

Ons ken nie meer ’n aflaatstelsel nie, maar gelowi­ges in Suid-Afrika word op talle ander maniere mislei onder meer deur ’n regering wat mank gaan onder korupsie van ongekende skaal.

Biskop Malusi Mphumlwana van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het so ver gegaan as om dit ’n “son­dige regering” te noem. Hoewel die konteks verskil, het dit weer tyd geword om te protesteer. Dit ­hoort op ons agenda as ons regtig getrou wil wees aan ons ge­reformeerde wortels.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.

Vriende van Kerkbode

Ons benodig jou ondersteuning om ons digitale reikwydte te vergroot deur woord, video en die Kerkbode-podsending…

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…

Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.