Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

‘Uit ’n ander hoek’ vertel te min van die ánder hoek

Jean Oosthuizen, bekende kerksake-joernalis, se Sondagaandse RSG-program, “Uit ’n ander hoek”, trek heelwat aandag. Dit is ’n program wat die ­ander, dikwels doelbewus verswygde, kant van gods­dienssake wil belig.

Soos die siening van mense wat nie meer die tra­di­sionele Christelike geloof aanvaar nie, of afgesien het van die georganiseerde kerk, of aanstoot neem aan gedateerde fundamentalistiese beskouings in ’n tyd dat die wetenskap koning kraai.

Daar moet ongetwyfeld op die openbare uitsaaier se rooster plek ingeruim word vir ’n program wat alternatiewe idees onder die aandag bring. Jean bied die program ook interessant en teen ’n vinnige pas aan.

Maar dit bring uiteraard ook vrae na vore oor die SABC se godsdiens-uitsaaibeleid wat in die verlede doel­bewus weggehou het van alte “omstrede” sake. Kerklike “dogma” moes vermy word, en iets wat gods­dienstig en kerklik aanstoot kon gee, was taboe. “Uit ’n ander hoek” is dan ook al in sy kort bestaan by die uitsaaiklagtekommissie aangekla, maar die klagte is afgewys.

’n Paar dekades gelede was daar wel die gereelde “Oop gesprek” op Sondagmiddae waarin dikwels meer omstrede sake uit verskillende hoeke benader is. En dit is my probleem met Jean se program. Die deelnemers, en hyself met die stel van sy vrae, staan te dikwels alte duidelik net aan één kant, die ánder, omstrede, kant.

Met die “Oop gesprek” destyds was kans gegee dat ver­skillende kante van ’n saak gestel word. In “Uit ’n an­der hoek” word egter sonder teenspraak of kom­men­taar toegelaat dat ’n eensydige beeld voorgehou word van byvoorbeeld die georganiseerde kerk as so te sê uitgedien … selfs ook dat ’n streep deur kernsake van die Chris­telike geloof getrek word. Dit gebeur sonder dat iets oor die ánder hoek van hierdie ánder hoek gesê word.

In besprekingsprogramme – en dit is wat “Uit ’n an­der hoek” wil wees; dis nie ’n oordenkingsprogram of ’n getuienisprogram nie – is dit na my mening baie belangrik dat verskillende kante telkens gestel word en dat daar balans is tussen die deelnemers.

Soos dit ook met ander RSG-besprekingsprogram­me soos “Praat saam” en “Kommentaar” gebeur. Dit werk dus nie as al die deelnemers byvoorbeeld afskeid van die georganiseerde kerk geneem het en ewe krities oor die kerk se doen en late is nie.

Dalk moet die program se naam en bedoeling eer­der wees “Uit allerlei hoeke”?

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top