My storie van hoop
Deur Hykie Berg
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017
Resensie deur Nicola van Zyl
Selde verskyn ’n boek met ’n meer gepaste titel. Hykie Berg se “storie van hoop” is die verhaal van ’n reis vanaf “moed-lose” verslawing en ’n lewe sonder God, tot hoopvolle herstel en ’n lewe mét God. In hierdie reis van verslawing tot beterskap word nie doekies omgedraai nie. Die geweldige eise wat aan die individu gestel word tydens die rehabilitasieproses, word duidelik uitgespel. Dit is ’n baie realistiese en dikwels ontnugterende beskrywing van Hykie se herhaalde pogings tot rehabilitasie, om dan maar weer terug te val in die ou patroon van dwelmafhanklikheid.
Hykie Berg het in Suid-Afrika bekendheid verwerf as akteur in TV-reekse soos Egoli en Binnelanders, en hy het al in talle rolprente gespeel. Hy was ook in 2011 die wenner van die realiteitsreeks Survivor in South Africa.
In sy boek verweef Hykie die verskillende dele van sy verhaal met die Twaalf Stappe van Narkotika Anoniem wat in 1946 deur Bill Wilson en Robert Holbrook gestel is as die basis van hulle Alkoholiste Anoniem-program. Hykie kombineer die progressie van die 12 stappe met sy “storie van hoop”. Hy beskryf die 12 stappe as “’n lewenslange proses van beginsels wat toegepas moet word”, en raai die leser aan om die boek te gebruik as ’n gids tot herstel.
Onderliggend aan die hele verhaal is Hykie se soeke na ’n ware God. Die boek is so geloofwaardig vanweë die diepte van ervaring wat beskryf word. Hykie se totale oorgawe aan Jesus as sy Verlosser gebeur nie eensklaps nie. Dis ’n lang stryd van soeke en verlies. Berg maak geen geheim daarvan nie dat hy al vroeg in sy lewe nie in God geglo het nie, en ook nie die kruisiging van Jesus verstaan het nie. Eers tydens die Survivor-opnames het hy waarlik insig gekry in die dieper betekenis van Jesus se offer aan die kruis en die rol van God in ’n Geesvervulde lewe.
Hierdie boek laat die leser ook met nuwe hoop. Dis ’n boek nie net vir die verslaafde nie, maar vir elke soeker na die dieper sin van die lewe – en na God se liefde.