Vaya
Regisseur: Akin Omotoso
Eerste uitreiking: 2016
Alan Childs
Vaya is ’n aangrypende Suid-Afrikaanse fliek wat ’n mens help om dele van ons samelewing te verstaan wat andersins redelik ontoeganklik is vir die tipiese voorstedelike Afrikaanssprekende.
Hierdie bekroonde fliek vertel die verhaal van verskeie karakters wat na Johannesburg toe aangetrek word om ’n beter toekoms te bou of ’n lewenstaak te verrig. Die hoofkarakters se lewens speel parallel met mekaar af en wentel tussen die hereniging van vervreemde kinders met hul ouers, die afhandel van families se begrafnisrites, ’n bendesluipmoord en grootoog-drome oor ’n televisieloopbaan. Dit herinner ietwat aan die Dertigers en Veertigers se verhale oor die armblankevraagstuk tydens die verstedelikingsproses. Behalwe dat hierdie visuele uitbeelding meer kontemporêre geweld en multikulturele ontworteling uitbeeld. Die storielyn is ongelukkig uiteindelik onbevredigend maar die kragtige akteurspel en goeie kamerawerk maak darem ietwat daarvoor op.
Temas van desperaatheid en uitgelewerdheid word ingemeng in die kontras tussen die eenvoudiger maar verbygaande ou weë van die platteland en die stadskind se vooruitsig op sprokies wat noodgedwonge op tragedies afstuur.
Die fliek is in Zoeloe met Engelse onderskrifte. Daar is ook ’n fotoboek wat deur die produksienetwerk saamgestel is as gespreksgids tot die fliek – Vaya: Untold stories of Johannesburg.
Hierdie boek en die onderliggende stories wat die onderbou van die fliek uitmaak, is die uitvloeisel van die Homeless Writers-projek – ’n platform wat deur kunstenaars en kundiges gebruik word om hawelose mense te help om hul eie stem te vind.
In ’n land waar die meerderheid van die bevolking swart, werkloos, verstedelik en relatief arm is, bied hierdie fliek ’n mens die geleentheid om meer begrip te hê vir die stories agter die naamlose gesigte van massas mense in ons land. Oorweeg dus gerus om jou selgroep of kerkraad op ’n uitstappie te neem om die fliek te gaan kyk, of mettertyd die DVD uit te neem en dan daarna oor die temas in die fliek te gesels.
Dis nie ’n “feel good movie” nie, maar dis beslis insiggewend en bied ’n mens die kans om die leefwêreld van so baie van ons landgenote van nader te ervaar.
▶ Ds Alan Childs staan aan die stuur van die middestadsbediening M.E.S.