Kerkbode

Kopiereg © Kerkbode 2026

Kerkwees is verhouding bou

Hierdie is 'n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van Kerkbode nie.

Ek is die afgelope nege jaar betrokke by jeugbediening en bedien as jeugwerker in die Klein-Karoo. Dit wat ek die afgelope tyd beleef, gesien en ervaar het in die NG Kerk is positief. Dit gee hoop en alhoewel daar nog altyd ruimte is vir vernuwing dink ek die kerk kry dit reg om oor grense en missionaal nie net te dink nie maar om dit werklik te doen en uit te leef.

Waar ek tans betrokke is in Ladismith, bedien ons die jeug en jongmense buite kerkmure. Daar word aktief uitgereik na die jeug van verskillende kerke en oor kleur- en kultuurgrense. Ons visie het verskuif van “ons kerk” na “God se kerk” en “God se koninkryk”.

Vir te lank kyk ons vas in getalle binne vier mure of die “kerk” en vra ons die vraag: Waar is ons jeug en jongmense? Maar wat is kerk – veral vir ’n jongmens?

[aesop_character img=”https://kerkbode.christians.co.za/wp-content/uploads/sites/2/2018/02/Andrew-Viljoen1.jpg” caption=”Andrew Viljoen is ’n jeugwerker by die NG gemeente Ladismith.” align=”right” width=”250px” force_circle=”off” revealfx=”off”]

Kerk is waar gelowiges bymekaar kom wat ’n hart het vir God en ’n liefde vir sy Woord, wat verby denominasie, kleur of ag­ter­grond kyk en waar die fokus ver­skuif na verhoudings. Jou verhouding met God en met ander.

Vir jongmense gaan kerkwees oor ervaring en belewenis, meer as net blote kennis of die verstaan van wie God is. Jongmense is vol vrae, waarop hulle nie antwoorde van kennis soek nie maar eerder die antwoorde wat hulle kry in hulle eie erva­ring van wie God is.

Jongmense soek en kry hierdie waarheid nie net deur wat vir hulle gepreek of geleer word op ’n Sondag­oggend nie. Hulle ondervind dit vir hulleself deur lof­prysing, ’n sosiale byeenkoms met medegelowiges, deur ’n voorbeeld wat uitgeleef word deur ’n mentor of in hulle eie binnekamer, of deur self uit te reik na ander. En dit “stick”. Daar is geen wegkomkans van hierdie soort geloofspad met God nie, want jy het dit vir jouself beleef en ervaar, en so is die prediking en dit wat geleer word net ’n aanvulling van dít wat klaar beleef is.

Ek sien dat hierdie soort benadering nie net positief ervaar word by ons jonger mense nie maar dat dit hoop gee vir die toekoms van ons jeug en jongmense wat dalk weg beweeg van kerkmure maar nader aan God se hart deur ’n liefdesverhouding met Hom te hê.

Andrew Viljoen is ’n jeugwerker by die NG gemeente Ladismith.

Vriende van Kerkbode

Beskerm betroubare nuus in die kerk en bevorder góéie geloofsgesprekke saam met Kerkbode, die blad waarop jy kan staatmaak in ’n veranderende wêreld…
Vertel my meer
Ondersteun betroubare kerknuus

Bybel-Boodskappers

Deel Jesus se boodskap van liefde, verlossing, en hoop elke dag en help ons om nog meer mense te bereik…
Vertel my meer
Deel die goeie nuus van Jesus
Geborg

Nuusbrief: Bly op hoogte

Teken in op Kerkbode se weeklikse nuusbrief vir vars nuus, briewe, vakatures, rubrieke, podsendings en nog meer.

Scroll to Top